Nuus 09:00
BULLETIN 25 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom werk aan ingrypings om beurtkragfases te verlaag
# Kaapse Kamer van Koophandel werk saam met belanghebbendes om opeenhoping by hawe teen te werk
# En, krieket: Jong vroue-spelers word erken vir hul prestasies op beroepsvlak
# Eskom werk aktief aan ingrypings om beurtkragfases te verlaag. Dit volg nadat beurtkrag vanaf fase 4 na fase 6 verhoog is vir die naweek. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het sleutelmaatreëls uiteengesit, insluitend die dringende verbintenis om die terugkeer van opwekkings-eenhede en die aanvulling van noodreserwes te verseker. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie ingrypings is van kardinale belang vir die bestendigheid en beskerming van die netwerk:
# Die Kaapse Kamer van Koophandel werk saam met belanghebbendes om die opeenhoping op die Kaapstadse hawe uit die weg te ruim. Suid-Afrikaanse hawens ondervind beduidende verkeer en vertragings, met meer as 60 vaartuie wat in Durban voor anker lê. Die staatsbeheerde logistiek-onderneming Transnet raam dit sal meer as vier maande duur om die agterstand uit te wis. Kaapstad se hawe ondervind vertragings van 12 tot 14 dae, wat daartoe lei dat sommige vaartuie hom vermy. Die kamer se uitvoerende hoof, John Lawson, skryf die situasie toe aan die regering se gebrek aan dringendheid.
# Die Arbeidshof het bevind wysiginge aan munisipale stelsels is onwettig. Die wet verbied alle munisipale werkers om ‘n amp in ‘n politieke party te beklee, wat ongrondwetlik is. Hierdie uitspraak word beskou as ‘n oorwinning vir alle munisipale werkers wat moontlik hulle grondwetlike regte sou verloor, onder die voorwendsel dat dit plaaslike regerings depolitiseer. Die KwaZulu-Natalse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering, Thami Ntuli, het aan eNCA gesê SALGA verwelkom die uitspraak, maar moet eers oor die gevolge besin:
# Die Wysigingswetsontwerp op die Algemene Intelligensiewette, wat ontwerp is om intelligensiedienste te herstruktureer, sal volgende week vir openbare kommentaar oop wees. Dit het ten doel om die Staatsveiligheidsagentskap te verhoed om op mense te spioeneer sonder om hulle in te lig sodra die waarneming afgehandel is. Die ad hoc-komitee gaan voort ondanks kommer oor die beperkte tydlyn van drie-maande vir parlementêre prosesse. Die wetsontwerp volg op ‘n presidensiële hersieningspaneel en die Zondo-kommissie en hou gevolge in vir nie-regeringsorganisasies en kerke, wat ‘n keuringsproses vereis. Openbare terugvoer sluit vroeg in Januarie.
# En krieket: Die Protea-vroue se afrigter, Hilton Moreeng, het ‘n mengsel van ervare en jong spelers gekies vir ‘n reeks van drie T20-wedstyde teen Bangladesj in Suid-Afrika. Die reeks skop op 3 Desember af. Laura Wolvaardt sal die span lei nadat sy in al drie formate as voltydse kaptein aangewys is. Marizanne Kapp sal ‘n ruskans kry, en Ayabonga Khaka, Chloe Tryon en Nadine de Klerk is beseer. Die opwindende jong spelers, Ayana Hlubi en Eliz-Mari Marx, sal hul buiging maak. Moreeng sê hulle word beloon vir hul prestasies op beroepsvlak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….