Nuus 09:00
BULLETIN 24 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die komitee oor Openbare Ondernemings vra behoorlike bestuur by Eskom
# Tax Justice South Africa vra die regering om die 700-miljard-rand-misdaadepidemie te stuit
# En, die Wêreldvoedselprogram sê 100 vragmotors met voedsel is gereed om Gaza in te gaan sodra die skietstilstand begin
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings sê behoorlike bestuur by Eskom sal lei tot optimale prestasie en dit in staat stel om sy mandaat om elektrisiteit op te wek, te bereik. Die kragvoorsiener se bestuur het vandeesweek aan die komitee verslag gedoen en ‘n netto verlies van byna 24-miljard-rand vir die 2022/2023-boekjaar bekendgemaak. Munisipale skuld het teen die einde van die boekjaar tot 58,5-miljard-rand opgeskiet. Die komitee se voorsitter, Khaya Magaxa, het Eskom gewaarsku dis ʼn resep vir ʼn ramp om geld te leen om skuld te betaal, en ʼn lening aan te gaan om ʼn ander af te betaal.
# Tax Justice South Africa sê die land het ʼn paradys vir misdadigers geword terwyl eerlike landsburgers ly. ʼn Nuwe Wêreldbank-verslag beklemtoon die hoë tol wat misdaad op die ekonomie eis. Die bank beraam misdaad kos die land 700-miljard-rand per jaar en ondermyn Suid-Afrika se groeipotensiaal en landsburgers se welsyn. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê die regering moet meer doen om misdaad te bekamp:
# Die DA plaas druk op die Gautengse Onderwysdepartement om die plasing van leerders te bespoedig wat betyds aansoek gedoen het vir die 2024 akademiese jaar. Die party sê vertraagde plasings veroorsaak angs onder ouers wat vir die komende skooljaar moet beplan en begroot. Die DA beklemtoon die belangrikheid om die aanlyn plasings-proses vroeër oop te stel en stel April voor, om tydige voltooiing teen Oktober te verseker. Die DA-lid, Khume Ramulifho, vra duidelike kommunikasie en tydige plasing vir alle aansoekers voor die skooljaar volgende maand eindig:
# Die Verenigde Nasies se wêreldvoedselprogram sê meer as 100 vragmotors met sowat een-duisend-300 ton kosvoorraad staan gereed om Gaza binne te gaan sodra die skietstilstand begin. ʼn Skietstilstand van vier dae begin vandag waartydens ongeveer 13 gyselaars wat Hamas in Gaza aanhou, asook 150 Palestyne wat in Israelse tronke is, vrygelaat sal word. ʼn Woordvoerder van die voedselprogram, Abeer Etefa, sê die tydelike wapenstilstand is ʼn stap vorentoe, maar net ʼn totale skietstilstand sal toelaat dat voldoende humanitêre hulp in Gaza verleen word.
# Rugby: Die Springbok-sewes se hoofafrigter, Sandile Ngcobo sal weens mediese redes nie saam met die span na Dubai reis vir die 2024 Sevens Challenger se aanvangswedstryd op die negende en tiende van volgende maand nie. Hy het verlede week sy hakskeensening tydens ʼn oefening beseer en moes geopereer word. Hulpafrigter Philip Snyman sal die afrigtingsverantwoordelikhede oorneem met die hulp van SA Rugby se Sewes-hoëprestasiebestuurder, Marius Schoeman. Ngcobo sê hy het volle vertroue in Snyman en hy sal goeie ondersteuning kry van die senior spelers in die span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-329-dollar-32-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….