NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 9 vm
Goeiemôre,
In die bulletin:
# Numsa gaan opvolg om seker te maak Denel kom hofbevel na om salarisse te betaal
# Minister Senzo Mchunu gaan inwoners van Gauteng toespreek oor verminderde watertoevoer
# En, daar is minder Covid-19-gevalle in Namibië, maar ook minder inentings
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy sal vandeesweek met Denel opvolg om te verseker dat werknemers wat nog nie hul salarisse ontvang het nie, wel betaal word. Dit volg op die hofbevel deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verlede week dat Denel alle uitstaande geld moet betaal. Die Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê minstens 800 lede, by onder meer Denel Dynamics en Denel Pretoria Metal Pressing, is vanaf Mei verlede jaar tot op datum nie ten volle betaal nie:
Speel klankgreep: ENG MajolaOnDenel
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, en die hoof- uitvoerende beampte van Rand Water sal vanmiddag inwoners van Gauteng toespreek oor die geskeduleerde instandhoudingswerk in verskeie munisipaliteite in die provinsie. Verminderde watertoevoer sal van vandag tot Woensdag in Gauteng voorkom. Die woordvoerder van die ministerie, Kamogelo Mogotsi, sê die munisipaliteite wat geraak word het gebeurlikheidsplanne in plek:
Speel klankgreep: ENGKamogeloMogotsi
# Die ANC in die Wes-Kaap sê die party is op ‘n onomkeerbare pad van vernuwing en dit beteken skoon, verantwoordbare en doeltreffende leierskap. Die party het die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Stelsels verwelkom. Die wetsontwerp het volgens News24 ten doel om munisipale bestuurders en senior bestuurders wat regstreeks aan die munisipale bestuurders rapporteer, te verbied om enige politieke amp te beklee. Dit moet ook toesien dat dié wat van wanbestuur beskuldig word, vasgetrek word. Cameron Dugmore van die ANC glo die wetsontwerp sal help om aanspreeklikheid van senior bestuurders in munisipaliteite te verseker.
# Hoewel aktiewe Covid-syfers in Namibië die afgelope ses weke ‘n merkbare afname toon, word byna die helfte minder mense nou teen die siekte ingeënt as tussen Julie en September. Die minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, Kalumbi Shangula, sê, hoewel daar minder Covid-gevalle is, kan Namibiërs nie nou met inentings ophou nie. Daar was in die derde kwartaal daagliks tussen drie-duisend-500 en vier-duisend inentings maar dis nou minder as twee-duisend per dag. Sowat 23-persent van die bevolking het teen verlede week hul eerste inentings gekry, terwyl 18,6-present ten volle ingeënt is.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het sy teleurstelling uitgespreek omdat die span nie vir die Wêreldbekertoernooi volgende jaar in Katar kon kwalifiseer nie. Die nasionale span het met een-nul teen Ghana verloor. Die Black Stars het in die 31ste minuut ‘n omstrede strafdoel ontvang, wat deur hul kaptein, Andre Ayew aangeteken is. Ghana het na die uitspeelwedstryde in Maart deurgedring. Suid-Afrika en Ghana het gelykop geëindig met 13 punte elk in Groep G, maar Ghana het met een doel méér by die Wêreldbekertoernooi se agterdeur ingeglip.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-29-sent teen die dollar, 17-rand-53-sent teen die euro en 20-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-690-dollar-8-sent. Die prys van goud is een duisend-858-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-70-sent per vat.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….