Nuus 09:00
BULLETIN 8 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Casac sê die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede is nie nou nodig nie
# Solidariteit bepleit desentralisasie in die onderwys
# En, Oscar-benoemdes ontvang geskenkpakkies ter waarde van R3-miljoen
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Casac, sê die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede is nie in hierdie stadium in die land nodig nie. Opposisiepartye in die Parlement het ‘n beroep gedoen vir beraadslagings tussen partye om ‘n moontlike regsoptrede oor die wetsontwerp af te weer. Die wetgewing verander die formule oor hoe politieke partye en onafhanklike lede in wetgewers geld van die staat ontvang. Die raad sê die bestaande verdeling van fondse moet behou word en die voorgestelde wysigings moet verwerp word.
# Die vakbond Solidariteit het gewaarsku die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette kan openbare skole benadeel, wat moontlik tot hul agteruitgang kan lei. Die vakbond het tydens ‘n voorlegging aan die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor Onderwys, kommer uitgespreek oor die voorgestelde wysigings aan taal- en toelatingsbeleide in die wetsontwerp. Hy vra gedesentraliseerde onderwys en ook die erkenning van ouers se belangrike rol. Johnell Prinsloo van Solidariteit waarsku indien ouers hul deelname in skoolsake ontneem word, kan dit lei tot kinders se onttrekking, verminderde befondsing en ‘n afname in onderwyser-gehalte.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, vergader vandag met die sakegemeenskap van Richardsbaai in KwaZulu-Natal oor polisie-ingryping om misdaad te bekamp. Beamptes glo vervoer-mafias saboteur spoorlyne en word verbind met ‘n reeks moorde wat bedoel is om vrees by plaaslike inwoners in te boesem. Die ministerie se woordvoerder, Lirandzu Themba, sê die vergadering vind plaas ná die presidensiële ontbyt saam met die Durbanse Kamer van Handel en Nywerheid twee weke gelede:
# Motorsport: Die hoof van die Red Bull Formule Een-span, Christian Horner sê dit het tyd geword om ‘n einde te maak aan die omstredenheid wat hom omhul het en op wedrenne te fokus. Die 50-jarige is onlangs van alle blaam onthef na ‘n ondersoek oor ‘n klagte van beweerde onbehoorlike gedrag wat ‘n vroulike kollega teen hom ingedien het. Sy aanklaer is nou met volle betaling geskors. Horner sê dit was ‘n baie moeilike tyd vir hom en sy gesin:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-156-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-156-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-42-sent per vat.
# En, ten slotte: Oscar-genomineerdes sal items ontvang soos skoonheidsprodukte, rolprent-geïnspireerde sjokolade, fynproewer-springmielies, ‘n Rubik’s Cube en verblyf in ‘n luukse chalet in die Switserse Alpe. Elke bederfpakkie bevat omtrent 60 items ter waarde van meer as drie-miljoen-rand. Reuters berig maatskappye betaal om hulle produk in die pakkies te kry, in ruil vir moontlike onbetaalbare blootstelling aan akteurs op die A-lys. Die jaarlikse Oscar-seremonie vind Sondag in Los Angeles plaas, met Oppenheimer die gunsteling vir verskeie toekennings, ondermeer Beste Rolprent en Beste Regisseur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….