Nuus 08:00
BULLETIN 29 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakeredders sê nog ‘n reddingsboei van 3,8-miljard-rand is nodig
# Kusile se eenheid twee is voor die geskeduleerde tyd weer aan die netwerk gekoppel
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku teen die uitbreking van aansteeklike siektes in Gaza
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakeredding-span sê hulle plan hang af van ‘n verdere reddingsboei van 3,8-miljard-rand. Die geld moet dien as ʼn kapitale buffer om vertroue in die staatsinstelling te herstel. Die kontantinspuiting sal egter nie keer dat ses-duisend werkers afgelê word nie. Die sakeredders, Anoosh Rooplal en Juanito Damons, sê 600-miljoen-rand is nodig om afleggingspakkette te finansier. Hulle voeg by die Poskantoor se gebrek aan belegging in sy infrastruktuur het gelei tot ʼn verswakking in sy bedryfsdoeltreffendheid en vermoë om dienste aan klante te lewer.
# Kusile-kragstasie se eenheid twee is gister weer by die netwerk ingeskakel wat twee dae voor die geskeduleerde tyd is. Die eenheid sal 800 megawatt by die netwerk voeg. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dis nog ʼn betekenisvolle mylpaal in die eenheid se opwekking-herstelplan, wat die energie-beskikbaarheidsfaktor teen Maart 2025 tot 70-persent wil opstoot:
# Die Suid-Afrikaanse federasie van vakbonde, Saftu, sê hy is geskok en hartseer oor die tragiese dood van elf mynwerkers by die Impala-platinummyn in Rustenburg, Noordwes. Die werkers is dood nadat ʼn hysbak wat werkers op en af in ʼn skag vervoer, se kabel gebreek het. Saftu se nasionale woordvoerder, Trevor Shaku, sê teen hierdie tyd moes gesondheid en veiligheid by myne in die land verbeter het tot geen beserings en sterftes nie:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie in die Palestynse gebied waarsku teen ʼn groot risiko in Gaza dat aansteeklike siektes kan uitbreek. Hy sê erge oorbevolking en die ontwrigting van gesondheidsdienste, en water- en sanitasiestelsels vererger die situasie. Byna ʼn driekwart van die hospitale en tweederdes van die gesondheidsklinieke in Gaza is gesluit. Die WGO sê hy vra ʼn volledige wapenstilstand, volgehoue toegang om hulp in Gaza te verleen, die beskerming van burgerlikes en gesondheidsorg en respek vir internasionale humanitêre reg.
# Netbal: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het die aanstelling van vyf lede op die onafhanklike raadgewende paneel oor die sport aangekondig. Hierdie is ‘n poging om ‘n netbal-arena te ontwikkel wat daarop gemik is om die ontwikkeling, volhoubaarheid en mededingendheid van netbal in Suid-Afrika te verbeter. Minister Zizi Kodwa sê die paneel sal ‘n bloudruk vir die sport in die land bewerkstellig, ‘n hersiening van strategie onderneem, poog om massadeelname te verhoog, en daarna streef om netbal as ‘n sport van keuse in gemeenskappe te posisioneer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-973-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-44-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….