Nuus 08:00
BULLETIN 28 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# My Vote Counts vra die minister van Binnelandse Sake om die verslae oor die vordering met verkiesingshervorming te publiseer
# Navorsing bevestig Suid-Afrika se verlies van miljarde in die stryd teen intense georganiseerde misdaad
# En, die Verenigde Nasies se kantoor vir die koördinering van humanitêre sake vra ‘n totale humanitêre skietstilstand
# My Vote Counts doen ‘n beroep op die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, om die vorderingsverslae van die verkiesinghervormings-paneel en die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsaangeleenthede uit te gee. Die minister sou verlede week voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake verskyn om die jongste inligting oor die twee sake bekend te maak, maar hy het nie opgedaag nie. My Vote Counts se woordvoerder, Boikanyo Moloto, sê die publiek moet toegang hê tot genoeg inligting oor die kiesstelsel sodat hulle hul politieke regte ten volle kan uitoefen:
# Global Initiative Against Transnational Organised Crime waarsku dat Suid-Afrika worstel met ‘n bestaanskrisis met georganiseerde misdaad. Die 2023 Aanwyser van Georganiseerde Misdaad uit Enhancing Africa’s Ability to Counter Transnational Crime van die EU onthul dat Suid-Afrika die derde swakste op die vasteland vaar met betrekking tot georganiseerde misdaad. Navorser Jenni Irish-Qgobosheane sê Suid-Afrika se veerkragtigheid verswak weens georganiseerde misdaad wat diep ingewortel raak. Sy beklemtoon egter hoewel die situasie benard is, kan Suid-Afrika nie as ‘n mafia-staat geklassifiseer word nie.
# City Power ontken berigte dat hy die naweek fase agt- in plaas van die aangekondigde fase ses-beurtkrag ingestel het. Die Johannesburgse krag-nutsdiens het vroeër die maand die bestuur van beurtkrag by Eskom oorgeneem. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê alle munisipaliteite en Eskom word deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se gebruikskode gelei wanneer beurtkrag ingestel word. Hy sê dis om gelyke verspreiding van die las van beurtkrag te verseker om te keer die kragnetwerk ineenstort:
# Die Verenigde Nasies se kantoor vir die koördinering van humanitêre sake sê hy het die lewering van humanitêre hulp in Gaza verskerp, maar ‘n totale skietstilstand is nodig. Israel en Hamas het die tydelike skietstilstand met nog twee dae verleng. Die VN-organisasie kon kos, water, mediese voorraad, tente en ander voorrade na Gaza neem, maar sê dis ‘n druppel in die emmer van 1,7-miljoen ontwortelde mense se behoeftes. Hy voeg by die humanitêre katastrofe in Gaza raak elke dag erger.
# Krieket: Australië moet vandag se derde T20 teen Indië in Guwahati wen om die reeks van vyf kragmetings te red. Die gasheer het sy oorwinning met twee paaltjies in die eerste wedstryd opgevolg met ‘n oorwinning met 44 lopies in die tweede toe hy die besoekers tot 191 vir nege beperk het. Indië het vroeër 235 vir vier behaal toe Yashasvi Jaiswal, Rururaj Gaikwad en Ishan Kishan almal vyftigtalle bygedra het. Die voorlaaste T20 word Vrydag in Raipur gespeel, en die laaste een Sondag in Bengaluru.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-139-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….