Nuus 08:00
BULLETIN 20 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran se president en minister van Buitelandse Sake is vermoedelik dood in ‘n helikopterongeluk
# Vragmotorbestuurders skort hul landswye staking op
# En, die soektog na die 11 vermiste vissermanne in Kaapstad word afgelas
# Iran se president Ebrahim Raisi is vermoedelik dood nadat die staatstelevisie berig het daar is geen lewe te bespeur op die toneel waar sy helikopter geval het nie. ʼn Helikopter met die president, die minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian en sewe ander aan boord het in digte mis in die noorde van die land neergestort. ʼn Iranse amptenaar het aan Reuters gesê die helikopter het heeltemal uitgebrand en die kans dat iemand oorleef het, is skraal. Die Iranse regering het nog geen amptelike verklaring uitgereik nie.
# Die All Truck Drivers-forum en Allied South Africa het hulle beplande landwye afsluiting vir vandag, opgeskort. Die afsluiting van diens, oor die indiensneming van buitelandse vragmotorbestuurders en ander kwessies, sou na verwagting die belangrikste vervoerroetes ontwrig. Die sekretaris-generaal van die twee organisasies, Gugu Sokhela, sê die leierskap het gister ‘n opbouende vergadering met die relevante belanghebbendes gehad. Hy sê hy hoop staatsdepartemente sal hulle verbintenis nakom om meer inspeksies te doen en die afdwinging van voldoeningsregulasies op te skerp.
# Die leier van die ACDP Kenneth Meshoe vra dat korrupsie in die tenderstelsel uitgeroei word. Hy het ondersteuners toegespreek aan die einde van ‘n veldtog in Empangeni, KwaZulu-Natal, en gesê die stelsel bevoordeel ‘n paar mense en veroorsaak infrastruktuur-agteruitgang. Meshoe sê hy sal dienslewering desentraliseer en munisipaliteite bemagtig, Hy vra ook die repatriasie van onwettige immigrante, en sê grense moet versterk word:
# Die soektog na die elf vissermanne wat vermis word nadat hul vaartuig Vrydagmiddag in Kaapstad se hawe gesink het, is afgelas. Daar was 20 bemanningslede aan boord toe die tragedie ontvou en nege is gered. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, sê ‘n oorsig van die reddingspogings en die gure weer het die Maritieme Reddingskoördineringsentrum laat besluit om die soek-en-reddingspoging te staak. Creecy verwelkom die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid se aanstelling van ʼn ondersoekspan.
# Sokker: Manchester City het Manchester United nou verbygesteek en die enigste span geword wat die Premierliga vier agtereenvolgende kere kon wen. Die span moes wen om Arsenal te klop en twee doele van Phil Foden en een van Rodri was genoeg vir Pep Guardiola se span om West Ham drie-een te verslaan en die titel met twee punte te buit. City spog nou met ses uit die afgelope sewe Premierliga-titels. Guardiola sê sy span se prestasies is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-675-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-436-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….