Nuus 08:00
BULLETIN 26 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid hou die Oscar Pistorius-saak fyn dop
# ‘n Tweede groep gyselaars in die Israel-Gaza-oorlog keer na Israel terug
# En, rugby: Groot VRK-oorwinnings vir drie Suid-Afrikaanse spanne
# Die waarnemende bedryfshoof van die Kommisie vir Geslagsgelykheid, Dennis Matotoka, sê hy hoop die voorwaardes wat met die paralimpiese atleet Oscar Pistorius se vrylating uit die gevangenis verband hou, sal streng nagevolg word. Die kommissie fokus veral op die program wat met woedebestuur en geweld teen vroue te doen het. Pistorius is verantwoordelik vir die moord op sy vriendin Reva Steenkamp in 2013. Sy parool tree op 5 Januarie in werking. Matotoka sê die kommissie gaan die saak fyn dophou om seker te maak die paroolvoorwaardes word nagekom:
Die voorsittende beamptes van die Parlement het hulle intussen verbind om toesig te hou oor die owerhede sodat hulle hul grondwetlike oorsigmagte gebruik om die nasionale pogings te versterk vir die uitwissing van geslagsgeweld. Hulle sê die tempo waarteen vroue en kinders in Suid-Afrfika vermoor word, is vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde. Volgens die onlangse kwartaallikse statistieke van die polisie is daar tussen Julie en September vanjaar tien-duisend-516 voorvalle van verkragting aangemeld. Die voorsittende beamptes doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle pogings te verskerp in die stryd teen die plaag van geweld teen vroue en kinders.
# Die DA in Johannesburg het amptelike bevestiging gekry sy mosie om die Johannesburgse raad te ontbind, is deur die programkomitee goedgekeur en gaan teen die einde van die maand ter tafel gelê word. Belinda Kayser-Echeozonjuko van die DA sê dit is deurslaggewend vir die politieke landskap in die stad. Sy voeg by Johannesburg het ongelukkig sinoniem geword met kaderontplooiing, vrugtelose en verkwistende uitgawes en stelselmatige vermyding van aanspreeklikheid:
# Hamas het 13 Israeli’s en vier Thaise burgers vrygelaat in ‘n tweede ronde van uitruilings ingevolge ‘n skietstakingsooreenkoms. Die Palestynse militantegroep het aanvanklik die uitruiling ‘n paar uur vertraag en aangevoer Israel het die voorwaardes van die ooreenkoms verbreek. Die 17 gyselaars is in die hande van die Rooikruis vrygelaat en het in Israel via Egipte aangekom. Israel het kort na middernag 39 Palestynse gevangenes na die ooste van Jerusalem en die Wesoewer as deel van die uitruiling vrygelaat. Die ooreenkoms is uiteindelik bereik ná internasionale bemiddelingspogings.
# En, rugby: Die terugkerende Springbokke in die Haaie se span het die verskil gemaak en hulle gehelp om gisteraand tien drieë teen die Dragons in Durban te druk vir ‘n groot pak slae. In hulle eerste oorwinning van die Verenigde Rugby-kampioenskap dié seisoen het die Haaie met 64-14 geseëvier. Die heelagter van die Bulle, Willie Le Roux, het vroeër sy buiging met ‘n drie gemaak om die span te help met ‘n bonuspunt-oorwinning van 53-27 teen Connacht op Loftus. Die Leeus het die besoekende Zebre’s oorheers met ‘n oorwinning van 61-19. Die gashere het nege drieë teen die Italianers se drie aangeteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….