Nuus 08:00
BULLETIN 23 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum wil duidelikheid van Nersa hê oor munisipale elektrisiteitstariewe
# Die Kommunikasiewerkersvakbond teken ‘n 6% loonverhogingsooreenkoms met die SABC
# En netbal: Die nuwe Protea-groep sluit agt spelers in wat hulself oorsee bevind
# AfriForum het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika gevra om te verduidelik of hy steeds munisipaliteite verplig om kostestudies in te dien wanneer hulle aansoek doen vir tariefverhogings. Verbruikers wat elektrisiteit by munisipaliteite koop kan dalk vanjaar ‘n verhoging vryspring omdat Nersa nie ʼn Hooggeregshof-bevel toegepas het wat na verwagting tot laer elektrisiteitstariewe sou lei nie. AfriForum se woordvoerder, Morné Mostert, sê die hof het in Oktober 2022 bevind die wyse waarop Nersa jaarliks munisipale elektrisiteitstariewe bepaal, is onwettig:
# Die Kommunikasiewerkersvakbond het ʼn ooreenkoms vir ʼn loonverhoging van ses-persent met die SABC onderteken. Die vakbond het aanvanklik ʼn verhoging van nege-persent geëis terugdateer tot een April verlede jaar. Hy het gedreig om die verkiesing te ontwrig as die sukkelende openbare uitsaaier nie aan sy eise voldoen nie. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het ingegryp en ʼn ooreenkoms is bereik. Die uitsaaivakbond, BEMAWU het die loonooreenkoms in Februarie onderteken. Die SABC het verlede jaar ʼn verlies van 1,13-miljard-rand gely.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal is operasioneel, ten spyte van ʼn kragonderbreking in dele van Johannesburg wat krag deur die Ridge-substasie kry. City Power sê ʼn uitgebrande toevoerbord by die substasie het kragonderbrekings by belangrike mediese instelling veroorsaak en raak klante in Berea, Hillbrow, Parktown en omliggende gebiede. Die nutsdiens sê hy weet nie wanneer die probleem opgelos sal wees nie. Die departement sê die Charlotte Maxeke Hospitaal het noodmaatreëls ingestel en gebruik tans rugsteunopwekkers.
# Die Britse Parlement het uiteindelik die omstrede Veiligheid van Rwanda-wetsontwerp bekragtig ná ʼn regstryd en politieke toutrekkery van twee jaar. Die wetsontwerp laat die regering toe om asielsoekers wat op onwettige wyse in Brittanje aankom, na Rwanda te deporteer sodat hul bewerings deur dié Oos-Afrika-nasie ondersoek kan word. Die Hooggeregshof het verlede jaar beslis die wetsontwerp is onwettig omdat Rwanda se asiel-stelsel ʼn swak menseregte-rekord het. Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, sê Rwanda is ʼn veilige land:
# Netbal: Die pas aangestelde Protea-afrigter, Jenny van Dyk, het haar eerste groep ná ʼn streng keuringsproses aangewys. Nege lede van die groep van 15 was verlede jaar deel van Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog. Dit sluit die ervare Karla Pretorius, Ine-Mari Venter en Khanyisa Chawane in. Van Dyk sê die groep weerspieël ʼn harmonieuse mengsel van ervare spelers en opkomende talent en bestaan uit sewe plaaslike en agt oorsee-gebaseerde spelers. Van Dyk se eerste wedstryd is in Augustus teen Malawi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-712-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….