Nuus 08:00
BULLETIN 24 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê diegene wat verantwoordelik is vir vertragings in die Richardsbaai-hawe sal aanspreeklik gehou word
# Saftu sê die Reserwebank klou aan beperkende beleidsrigtings tot nadeel van die werkersklas
# En tennis, Serwië speel teen Italië in die Davisbeker-halfeindronde
# President Cyril Ramaphosa sê diegene wat verantwoordelik is vir die ongekende opeenhoping van vragmotors op die N12-hoofweg in KwaZulu-Natal by die Richardsbaai-hawe, moet aanspreeklik gehou word. Hy het die hawe gister besoek om vas te stel wat die oponthoude veroorsaak. Vragmotors staan dae lank in toue en wag om goedere by die hawe op en af te laai. Ramaphosa sê ‘n volledige ondersoek is gedoen oor probleme by Transnet en hy het die versekering ontvang dat dit vinnig opgelos sal word.
# Die Suid-Afrikaanse federasie van vakbonde, Saftu, sê hy is teleurgesteld dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank voortgaan met ʼn beperkende monetêre beleid. Die bank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd op 8,25-persent gehou wat die prima uitleenkoers op 11,75-persent laat. Saftu se nasionale woordvoerder, Trevor Shaku, sê ʼn beperkende monetêre beleid benadeel groeivooruitsigte en raak die werkersklas meer as enige ander afdeling van die ekonomie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, sê ten spyte van die wêreld-ekonomie se toestand ná Covid-19 sien hulle steeds dat werkskepping en ekonomiese groei verbeter. Sy het hierdie week die Munisipale Ekonomiese Oorsig en Vooruitsig vir 2023/2024 in die Wes-Kaapse provinsiale parlement voorgelê. Wenger sê die vooruitsig weerspieël die provinsie se aanpasbaarheid en veerkragtigheid in tye van veranderende ekonomiese denkrigtings:
# Die aantal anti-Semitiese en anti-Moslem-haatmisdade in Kanada se grootste stad, Toronto, het skerp toegeneem sedert die begin van verlede maand se konflik tussen Israel en Hamas. Altesaam 78 haatmisdade is tussen die sewende van verlede maand en die 20ste van hierdie maand aangemeld teenoor 37 in dieselfde tydperk verlede jaar. Die getal aangemelde anti-Semitiese haatmisdade in hierdie periode het byna verdriedubbel van 13 verlede jaar tot 38 vanjaar. Dié waarby die Moslem-, Palestynse en Arabiese bevolking betrokke is, het van een verlede jaar tot 17 vanjaar toegeneem.
# Tennis: Serwië is deur na die Davisbeker-halfeindronde nadat hy Brittanje in Malaga, Spanje, met twee-nul geklop het. Novak Djokovic het Cameron Norrie met 6-4 en 6-4 verslaan en Miomir Kecmanovic het Jack Draper met 7-6 en 7-6 geklop. Brittanje het die Davisbeker in 2015 laas gewen en kwalifiseer nie outomaties vir volgende jaar se uitklopronde nie, nadat hulle in die kwarteindronde in Malaga uitgeskakel is. Serwië kom môre teen Italië te staan nadat Jannik Sinner sy enkelspel- en ʼn bepalende dubbelspelwedstryd teen Nederland gewen en ‘n terugkeer vir sy span verseker het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-378-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….