Nuus 08:00
BULLETIN 22 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die verbreking van politieke bande met Israel gaan geweldige gevolge hê
# Die EFF verwelkom die Parlement se resolusie om die Israelse ambassade in Suid-Afrika te sluit
# En rugby: Tom Curry van Engeland gaan die Sesnasies misloop
# Die DA sê die ANC se besluit om ten gunste van die EFF se mosie te stem om politieke bande met Israel te verbreek, gaan geweldige gevolge inhou vir Suid-Afrikaners wat in die streek vasgekeer is. Die Nasionale Vergadering het ʼn mosie aanvaar waarin die regering gevra word om die Israelse ambassade in Suid-Afrika te sluit en alle diplomatieke bande met die land op te skort totdat hy tot ʼn skietstilstand instem. Emma Louise Powell van die DA sê Suid-Afrika het nou geen manier om die rigting en uitkoms van die huidige krisis in die Midde-Ooste te beïnvloed nie:
Die EFF het intussen die Nasionale Vergadering se besluit oor die sluiting van die ambassade verwelkom. Twee-honderd-48 lede het ten gunste van die mosie gestem en 91 daarteen. Die EFF-woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê hulle verwelkom die besluit in die lig van die voortgesette anneksasie van Palestynse grond, die dood van vroue en kinders in Gaza, die oprigting van Israelse huise op Palestynse grond, grondonteiening en bomaanvalle op hospitale in Gaza.
# Die ANC het die Vrystaatse Kopanong-munisipaliteit se burgemeester, Xolani Tseletsele, met onmiddellike ingang geskors en hy sal voor die integriteitskommissie moet verskyn. Die burgemeester is op sosiale media gesien waar hy by sy huis ʼn inwoner dreig wat blykbaar oor die haglike toestand van paaie in die gebied gekla het. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê sulke gedrag skend die party se integriteit en ondermyn mense se waardigheid:
# Rugby: Engeland se flank, Tom Curry, sal nie aan die Sesnasies kan deelneem nie en sal waarskynlik ook die res van die seisoen misloop. Die 25-jarige speler moet oor twee weke ʼn heupoperasie kry. Curry sukkel met die besering sedert hy by die Rugby-wêreldbeker vir Engeland uitgedraf het. Intussen sal Engeland en Sale Sharks se agterspeler, Ben Earl, wel beskikbaar wees vir die begin van die Sesnasies in Februarie. Dit ten spyte van die besering aan sy regterknie wat hy Saterdag opgedoen het tydens die opwarming voor sy span se Premierskap-oorwinning oor Harlequins.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-356-dollar-68-sent. Die prys van goud is een-duisend-996-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte, ʼn professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Marla Trindade, het lewenslange lidmaatskap ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap ter erkenning van haar wetenskaplike aktiwiteite en navorsingswerk in lewenswetenskappe. Sy is een van slegs ʼn paar van die land se voorste geleerdes en wetenskaplikes wat vanjaar ingehuldig is. Trindade, direkteur van die universiteit se Instituut vir Mikrobiese Biotegnologie en Metagenomika, sê haar navorsing fokus op oplossings vir die behandeling van verskeie siektes, veral in die vroeë stadiums:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….