Nuus 08:00
BULLETIN 19 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan verseker SAL-werknemers hulle sal nie afgedank word nie
# Business Leadership SA wil hê die regering moet die verskaffing van doeltreffende waterdienste verseker
# En minstens 12 mense is in Haïti dood te midde van stygende bendegeweld
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die Suid-Afrikaanse Lugdiens se personeel verseker hulle werk is veilig. Dit volg nadat die ooreenkoms om ‘n 51-persent aandeel in die lugdiens aan Takatso Consortium te verkoop, misluk het. Die minister het gister met sowat twee-duisend SAL-werknemers vergader. Die departement se woordvoerder, Ellis Mnyandu, sê Gordhan is vol vertroue die lugredery se bestuur sal die nasionale redery tot groter hoogtes lei:
# Business Leadership South Africa sê vaardigheidsontwikkeling in munisipaliteite is nodig sodat hulle waterstelsels proaktief kan bestuur en onderhou. Sommige areas in Gauteng beleef waterprobleme terwyl Rand Water waarsku die stelsel is op die rand van ineenstorting. Die Bloudruppel-ouditverslag wat verlede jaar vrygestel is, lig ʼn ernstige vaardigheidstekort op alle vlakke van die waterstelsel uit. Volgens die verslag is minstens 203 tegniese personeellede en 197 wetenskaplikes nodig. BLSA se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, sê die regering moet meer doen om doeltreffende waterdienste te verseker.
# City Power begin vandag met sonkraggeiser-oudits om die eenhede te evalueer wat in 2014 geïnstalleer is en nuwes in lae-inkomste-huishoudings te installeer. Woordvoerder Isaac Mangena sê die omgewingsvoordele sluit in die voorkoming van meer as 20-duisend-ton koolstofuitlatings. Die oudits, wat in Lenasia en Midrand begin, behels huis-tot-huis besoeke deur aangestelde agente. Kliënte word aangemoedig om saam te werk en daarop gewys dat die besoeke met geiserwerk verband hou, en nie kragafsluitings nie.
# Minstens 12 mense is dood in die jongste vlaag geweld in Haïti nadat gewapende bendes amok gemaak het in twee gegoede buurte in die hoofstad, Port-au-Prince. Gewapende mans het huise in die gemeenskappe van Laboule en Thomassin geplunder en inwoners gedwing om te vlug. Die Karibiese nasie bly lamgelê deur toenemende bendegeweld en politieke onbestendigheid. Bendes beheer nou 80-persent van die hoofstad. Unicef se uitvoerende direkteur, Catherine Russell, beskryf die situasie in Haïti as afgryslik:
# Tennis: Die groot name kom in Miami byeen na die voltooiing van die Indian Wells-toernooi, die eerste been van die sogenaamde Sunshine Double. Onder hulle is die enkelspelwenners van die toernooi, Carlos Alcaraz van Spanje en Iga Swiatek van Pole. Alcaraz is tans die wêreldnommer-twee, en die topgekeurde speler vir die toernooi, nadat Novak Djokovic van Serwië onttrek het. Onder die vroue is daar groot belangstelling in Simona Halep van Roemenië, wat in haar eerste toernooi speel sedert haar dwelmvonnis verminder is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-608-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-161-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….