Nuus 08:00
BULLETIN 18 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag ‘n konferensie oor die stand van menseregte in Suid-Afrika toespreek
# Die parlementêre komitee oor die Polisie doen ‘n beroep op verskerpte opleiding vir die polisie oor gesinsgeweld
# En, Putin sê Rusland se demokrasie is deursigtig nadat hy ’n reuse-oorwinning behaal
# President Cyril Ramaphosa gaan die nasionale konferensie oor die Stand van Menseregte toespreek, wat 30-jaar van grondwetlike demokrasie en menseregte in Suid-Afrika vier. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling bied die konferensie van vandag tot Woensdag in Boksburg, Ekurhuleni aan. Die tema is ‘Drie Dekades van Respek vir en die Bevordering van Menseregte’. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê afgevaardigdes sal die wetlike, administratiewe, operasionele en finansiële struikelblokke toelig wat die vordering met die volvoering van menseregte belemmer:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Polisie sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet sy lede se opleiding verbeter om seker te maak dit voldoen aan die Wet op Huishoudelike Geweld. Van een April tot 30 September verlede jaar is 60 gevalle aangemeld, maar by 50 hiervan is ‘n polisievorm oor huishoudelike geweld nie volledig ingevul nie. In twee gevalle is ʼn klaer nie gehelp om ʼn klag in te dien nie. Die komitee sê beter opleiding sal polisiebeamptes toerus sodat hulle verslae en ondersoeke na huishoudelike geweld deeglik gedoen word.
# Johannesburg Water waarsku inwoners om water spaarsaam te gebruik en vlak een-beperkings te gehoorsaam omdat die stelsel onder groot druk is. Hoewel Rand Water voorraad pomp en voorsien, het toenemende druk op die hele stelsel daartoe gelei dat reservoirs nie aan die vraag kan voldoen nie. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê die vraag is groter as die kapasiteit, daarom moet inwoners en sakeondernemings saam met die stad werk om vermorsing van water met minstens tien-persent in te kort:
# President Vladimir Putin sê Rusland se demokrasie is meer deursigtig as baie in die Weste. Sy reaksie kom te midde van vroeë verkiesingsuitslae wat daarop dui dat hy in die presidentsverkiesing byna 88-persent van die stemme op hom verenig het, in ‘n verkiesing waarin geen geloofwaardige opposisiekandidaat toegelaat is om te staan nie. Die uitslag beteken dat Putin sal regeer tot ten minste 2030, wanneer hy 77 sal wees. Hy sê die verkiesings het nasionale eenheid gevestig, en daar lê baie take vir Rusland voor, te midde van die voortgesette stryd teen die Weste.
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het sy Indian Wells-titel suksesvol verdedig. Die 20-jarige Spanjaard het die wêreld se nommer vier van Rusland, Daniil Medvedev, met 7-6 en 6-1 verslaan om sy eerste sege sedert verlede jaar se Wimbledon te behaal. In die vroue-afdeling het wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, haar tweede Indian Wells-titel opgeraap toe sy die Griek, Maria Sakkari, met 6-4 en 6-0 afgeransel het. Swiatek sê sy is trots op die manier waarop sy deur die hele toernooi geveg het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-922-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-146-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….