Nuus 07:00 (DGO) 8 Februarie
BULLETIN 8 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwag deurslaggewende maatreëls in vanaand se staatsrede
# Die Spesiale Ondersoekeenheid herwin 700-miljoen-rand in sy NSFAS-ondersoek
# En, die VN-hoof waarsku die wêreld gaan ‘n tydperk van chaos binne
# Cosatu vra beslissende maatreëls om die ekonomie te stimuleer, werk te skep en volgehoue maatskaplik-ekonomiese uitdagings aan te pak wanneer president Cyril Ramaphosa vanaand sy Staatsrede lewer. Die vakbond doen ‘n beroep op die regering om progressiewe en tasbare doelwitte, hulpbronne, duidelike tydraamwerke en aanspreeklikheid vir doeltreffende lewering in te stel. Matthew Parks van Cosatu sê werkers wag gretig op beslissende optrede van die regering om dringende bekommernisse soos werkloosheid, ongelykhede en die nasleep van staatskaping die hoof te bied.
AfriForum kritiseer intussen Ramaphosa se administrasie en wys op onvervulde beloftes van verlede jaar. Hy sê aanhoudende kwessies soos langdurige beurtkrag, stygende werkloosheidsyfers, toenemende armoede en die stygende lewenskoste bly onaangeraak. AfriForum stel voor Eskom moet geprivatiseer word, onderwys moet hervorm word, staatsinmenging moet verminder en gemeenskappe moet bemagtig word om misdaad te bekamp en dienslewering te verbeter. Ernst van Zyl van AfriForum bepleit ‘n gemeenskapsgegronde benadering vir doeltreffende probleemoplossing en desentralisasie:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê hy het tot dusver meer as 700-miljoen-rand teruggekry in sy ondersoek na die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit is fondse wat weens swak beheerstelsels en ‘n gebrek aan rekonsiliasieprosesse by die skema nie toegeken is nie. Die eenheid sê sy ondersoeke het onthul die skema het nie beheermaatreëls ingestel om ʼn jaarlikse rekonsiliasie te verseker tussen fondse wat aan instellinge betaal is en dié fondse se toekenning aan studente nie. Hy het ook erkennings onderteken van skuldooreenkomste van 49-miljoen-rand met studente en instellings wat op bedrieglike wyse voordeel getrek het uit die hulpskema.
# Die IVP in Kwa-Zulu-Natal sê hy is geskok nadat nog een van sy raadslede vermoor is. Volgens die polisie is ʼn Nongoma-raadslid gistermiddag langs die R618 in Mtubatuba in ʼn lokval gelei toe sy voertuig onklaar geraak het. ʼn Groep gewapende mans het langs sy voertuig gestop en hom talle kere geskiet. Die verdagtes het daarna op ʼn verbygaande taxi met leerders losgebrand en een kind is dood en twee ander gewond. Die IVP sê dis uiters kommerwekkend dat politieke moorde in die provinsie onverpoosd voortgaan.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku die wêreld gaan ʼn tydperk van chaos binne met ʼn diep verdeelde VN-veiligheidsraad wat nie ernstige sake soos die Israel-Hamas-oorlog kan hanteer nie. Hy het sy prioriteite vir die jaar in die Algemene Vergadering bekend gemaak. Guterres sê in vandag se wêreld vol beroeringe verg dit ʼn bewustelike, dapper en selfs radikale optrede om vrede te bewerkstellig. Hy sê dis die mensdom se grootste verantwoordelikheid.
# Tennis: Die voormalige wêreld nommer een, Simona Halep, veg vir haar loopbaan in die Hof vir Arbitrasie vir Sport in Lausanne, Switserland. Die 32-jarige Roemeniër is in Oktober 2022 voorlopig geskors na ‘n positiewe opkikkertoets gedurende die Amerikaanse Ope. Die tweemalige Grand Slam-kampioen is verlede jaar van nog ‘n opkikker-oortreding aangekla. Halep ontken die aanklagte heftig en plaas die skuld vir haar positiewe toets op besmette gelisensieerde aanvullings. Die verhoor duur tot môre, maar dit is onduidelik wanneer die beslissing bekendgemaak sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-528-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….