Follow Us
Dean Burmester op pad na Joburg Ope, honger vir nog sukses [KLANK]
Wed 24th Nov 2021
Nuus 07:00
Wed 24th Nov 2021
Print Friendly, PDF & Email

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 24 November 7 vm

Goeiemôre,

In die bulletin:

# Eskom het regeringsondersteuning van 150-miljard tot 200-miljard-rand nodig om sy skuld te halveer
# Die sperdatum vir die indien van belastingopgawes is verleng
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku Covid-19 sterftes in Europa kan teen Maart meer as twee-miljoen wees

# Eskom sê hy het steeds finansiële ondersteuning van die regering nodig totdat probleme met koste-doeltreffendheid, munisipale skuld en die haal van koste-reflekterende tariewe opgelos kan word. Die kragvoorsiener se hoof finansiële beampte, Calib Cassim, het aan die Parlement se staande komitee vir Openbare Rekeninge gesê hulle het in ‘n voorlegging  aan die regering aangedui sowat 150-miljard-rand tot 200-miljard-rand is nodig om die kragvoorsiener se skuld te halveer. Cassim sê Eskom dra ‘n skuldlas van ongeveer 400-miljard-rand wat nie uit sy huidige kontantvloei en werksaamhede betaal kan word nie.

# Die gewese minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, moet vandag in die Johannesburgse Streekhof verskyn vir die begin van haar meineed-verhoor. Dlamini word daarvan beskuldig dat sy onder eed gejok het tydens haar getuienis voor ‘n ondersoek wat die Konstitusionele Hof gelas het na haar aandeel in die maatskaplike toelae-krisis van 2017. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Dlamini gaan na verwagting pleit voor die staat sy eerste getuie roep.

# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die sperdatum vir die indien van belastingopgawes tot 2 Desember verleng. Dit is om belastingbetalers wat weens verskeie redes uitdagings ervaar het met hul opgawes, nog tyd te gee. Die Inkomstediens het ook die datum vir die heffing van boetes op belastingbetalers wat nie hul opgawes ingedien het nie, tot Januarie verleng. Die Inkomstediens sê hy hoop belastingbetalers sal hul wetlike verpligtinge nakom, en dat die verlenging mense sal aanmoedig om hul belastingopgawes in te dien.

# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku die totale Covid-19-verwante sterftes in Europa kan teen Maart volgende jaar meer as twee-miljoen wees. Bevestigde sterftes weens die virus is reeds meer as 1,5-miljoen in die 53 lande wat deel van die WGO se Europese streek is. Hans Kluge van die WGO sê dis noodsaaklik dat lande ‘n inenting-plus benadering volg. Dit beteken elkeen kry die standaard dosis van die entstof, met versterkingsinentings wanneer dit aangebied word. Hy sê entstowwe help om ernstige Covid-19-simptome te voorkom en as gevolg daarvan is die druk op gesondheidsdienste en hospitale minder.

# Krieket: Suid-Afrika A het die eerste dag van sy toets teen Indië A  op die Manguang Oval in Bloemfontein op 343 vir 3 afgesluit.  Die twee spanne speel teen mekaar in die eerste van drie vierdag-wedstryde. Kaptein Pieter Malan het die dag onoorwonne op 157 afgesluit, met Tony de Zorzi op 117. Die twee het ‘n vennootskap van 217-lopies om die derde paaltjie gebou. Die Indiese boulers Navdeep Saini, Arzan Nagwaswalla en Umran Malik het elk ‘n paaltjie platgetrek.

# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-86-sent teen die dollar, 17-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-487-dollar-1-sent. Die prys van goud is een duisend-794-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.

# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee, wie se regte naam Nathi Maphumulo is, is vir ‘n Grammy genomineer in die kategorie Beste Dans/Elektroniese Album vir die album Subconsciously. Dis sy sesde album en die eerste in vyf jaar. Die wêreldbekende platejoggie het ‘n uiteenlopende groep talentvolle medewerkers vir dié album bymekaar gebring. Onder hulle is die sangers Usher, Sabrina Claudio, en Celeste. Die 64ste Grammy-prysuitdeling word op 31 Januarie in Los Angeles gehou.

Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….

Our team is here to answer your questions. Editorial questions? Chat to the Editor on duty Free Trial or general questions? Chat to Debbie Technical issues? Chat to our Tekkie
WeCreativez WhatsApp Support
Free Trial / General Enquiries
Debbie Oosthuizen: GM
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Peet Bothma
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Andries Cornelissen
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Lusanda Bill
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Technical Support
Tekkie
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Mariana Vos
Away