Nuus 07:00
BULLETIN 29 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amcu vra nalatige mynbase moet van strafbare manslag aangekla word
# Nog gyselaars en gevangenes word vrygelaat op die vyfde dag van die skietstilstand tussen Israel en Hamas
# En rugby, die Blitsbokke kom in Dubai aan vir die begin van die nuwe seisoen
# Die vereniging van mynwerkers en konstruksie-unie, Amcu, sê nalatige mynbase moet van strafbare manslag aangekla word in gevalle waar werkers op die terrein sterf. Dit volg nadat elf mynwerkers Maandag by die Impala-platinum-myn in Rustenburg, Noordwes dood is. ‘n Hysbak wat mynwerkers op en af in die skag vervoer, het onverwags 200 meter ver geval. Amcu se president, Joseph Mathunjwa, sê die ramp kon voorkom word:
# Eskom het aangekondig die Wêreldbank het goedkeuring verleen vir die wettige skeiding van sy Transmissie-afdeling, wat ‘n beduidende stap in die kragvoorsiener se omkeerplan is. Die voorwaardelike goedkeuring word beskryf as ‘n sleutel-aspek van Eskom se strategiese doelwitte, en noodsaaklik vir nuwe toegang tot die kragnetwerk. Dit sal belegging in die opwekkingsektor aanmoedig en die land se energie-sekerheid verbeter. Die bank se goedkeuring is in ooreenstemming met sy breër verbintenis tot steun aan Suid-Afrika om langtermyn energie-sekerheid te bevorder, insluitend ‘n ontwikkelings-beleidslening wat onlangs goedgekeur is.
# Die Wes-Kaapse regering het ʼn interregerings-dispuut met die Nasionale Tesourie verklaar oor ʼn begrotingsbesnoeiing van 1,1-miljard-rand vir die provinsie. Dit hou verband met die openbare sektor se salarisrekening wat sentraal onderhandel en aanvaar is. Dit is ingestel nadat die provinsiale Parlement die jaarlikse begroting goedgekeur het, wat tot ongekende begrotingsbesnoeiings in die boekjaar gelei het. Premier Alan Winde sê al wat hulle wil hê, is ʼn regverdige begrotingstoekenning:
Die Vryheidsfront Plus sê hy is nie verbaas dat die Gautengse ANC-regering hom nie kan verbind tot ʼn vasgestelde tydlyn om die e-tolstelsel op te hef nie. Die LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, sê ʼn voorstel om die provinsie se deel van die e-tolskuld te betaal, sal volgende maand ingedien word. Die VF Plus sê premier Panyaza Lesufi het verlede jaar hierdie tyd belowe die e-tolstelsel sal teen 2022 geskrap word. Hy sê die werklikheid is dat die stelsel steeds ten volle in werking is en padgebruikers ontvang steeds rekeninge.
# Nog 12 gyselaars, tien Israeli’s en twee Thaise burgers, is deur Hamas in Gaza vrygelaat. In ruil daarvoor is 30 Palestyne uit Israelse tronke vrygelaat. Altesaam 81 gyselaars wat in Gaza aangehou is, is nou vrygelaat tydens die skietstilstand tussen Israel en Hamas. Een-en-sestig is Israelse burgers en almal is vroue en kinders. Israel het 180 Palestyne uit tronke vrygelaat waarvan die meeste vroue en minderjariges is. Volgens berigte is talle aangehou maar nooit aangekla nie.
# Rugby: Die Blitsbokke het in Dubai aangekom vir die eerste toernooi hierdie naweek van die nuwe Sewes-reeks. Suid-Afrika was baie suksesvol in die Verenigde Arabiese Emirate en mik na ʼn 11de toernooi-oorwinning. Blitsbok-losskakel, Justin Geduld, is die mees ervare lid van die groep en speel in sy 55ste Sewes-toernooi. Geduld was laas in 2020 in Dubai en sê dis goed om terug te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-919-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-47-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….