Nuus 07:00
BULLETIN 27 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Vervoer sê geen verdraagsaamheid sal getoon word teen diegene wat padreëls verontagsaam nie
# Die DA sê die regering laat die land se kinders in die steek
# En, AfriForum is op pad na die Verenigde Nasies om die kollig op diskriminasie en haatspraak te plaas
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê daar sal geen verdraagsaamheid wees teenoor diegene wat in hierdie feestyd verkeersreëls oortree nie. Sy het gister die 2023/2024-feestyd se padveiligheidsveldtog amptelik in Tsakane aan die Gautengse Oos-Rand bekend gestel. Vanjaar se veldtog fokus op die uitwerking van alkohol op padgebruikers se gedrag en die bydrae tot die slagting op paaie. Chikunga het ‘n streng waarskuwing uitgereik aan misdadigers wat in hierdie feestyd motoriste langs die land se paaie terroriseer:
Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê intussen verkeersbeamptes moet streng wees met motoriste wat drink en bestuur. Hy het gister by die bekendstelling van die nasionale feestyd-padveiligheidveldtog gesê die regering moet ʼn wet aanvaar dat geen persoon wat agter ʼn stuurwiel inklim, alkohol mag gebruik nie. Hy voeg by alkohol is een van die grootste oorsake van padongelukke in die provinsie:
# Die DA sê die onlangse verdoemende verslag van die Nelson Mandela-kinderfonds toon duidelik hoe die ANC-regering se verwronge prioriteite Suid-Afrikaanse kinders ondermyn. Een van die bevindings is dat meer as 27-persent van kinders onder vyf se groei weens wanvoeding belemmer word, wat onherstelbare fisiese en kognitiewe skade kan veroorsaak. In 2020 het 10-persent kinders in huishoudings gewoon waar hulle honger ly. Die DA sê die regering doen sy bes om alle planne wat bedoel is om kinders in die land te ondersteun, te bemagtig en te beskerm, in die wiele te ry.
# Die Staatsdiens-aanspreeklikheidsmonitor sê die Makana-munisipaliteit het geen verskoning dat hy nie sy voorwaardelike toelaes bestee het nie. Die Nasionale Tesourie het die Oos-Kaapse munisipaliteit opdrag gegee om 60,7-miljoen-rand terug te gee wat nie in die 2021/2022- en 2022/23-boekjare gebruik is nie. Die monitor-groep sê voorwaardelike toelaes is noodsaaklik vir belangrike diensleweringskwessies. Hy sê die onderbesteding is die gevolg van swak beplanning, en swak verslagdoening en gevolgebestuur.
# Verteenwoordigers van AfriForum neem vandag en Vrydag deel aan twee geleenthede van die Verenigde Nasies om die buiteland verder bewus te maak van diskriminasie, rasgebaseerde wetgewing en haatspraak teen minderhede in Suid-Afrika. Ernst van Zyl van die burgerregte-organisasie sê een van die belangrikste kwessies wat hulle onder die VN se aandag wil bring, is die regering se raskriteria vir die uitvoer van landbouprodukte. Hy sê hulle sal ook ʼn nuwe verslag oor die Suid-Afrikaanse regering se rassediskriminasie aan die VN se komitee oor die uitskakeling van rassediskriminasie voorlê.
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull het die seisoen se laaste Grand Prix in Abu Dhabi gebuit en spog vanjaar met ʼn rekord 19 seges uit 22 wedrenne. Sy spanmaat Sergio Perez was tweede, maar is na die vierde plek afgeskuif weens ʼn boete van vyf sekondes nadat hy ʼn botsing met Lando Norris van McLaren veroorsaak het. Dit het Charles Leclerc van Ferrari na die tweede plek gepromoveer met George Russell van Mercedes derde. Dit het die Silver Arrows gehelp om tweede in die Vervaardigerskampioenskap te eindig. Verstappen sê dit was ʼn baie spesiale seisoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-394-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-8-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….