Nuus 07:00
BULLETIN 16 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Verdagte word in hegtenis geneem ná ’n klaarblyklike sluipmoordpoging op Donald Trump
# AfriForum vra dringende polisiehervorming nadat miljarde vir onwettige arrestasies betaal is
# En ActionSA bevestig sy voornemens om bande met die DA-koalisie in Tshwane te verbreek
# Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump is veilig en ongedeerd na wat die FBI as ‘n sluipmoordpoging beskryf. Agente van die Geheime Diens het losgebrand toe hulle ʼn gewapende persoon opmerk by die Trump International-gholfbaan wes van Palm Beach, waar die oudpresident se Mar-a-Lago-woning geleë is. Trump was op daardie tydstip besig om gholf te speel. Die verdagte het in ʼn motor gevlug, maar is gearresteer nadat hy op die hoofweg voorgekeer is. ʼn Wapen, teleskoop, rugsakke en ʼn GoPro-kamera is in bosse langs die gholfbaan gevind.
# Oudpresident Thabo Mbeki sê die ANC se hernuwingsproses kan nie volgens faksies gedoen word nie. Hy het gister ‘n vernuwingswerksessie van die ANC Gauteng in Boksburg aan Johannesburg se Oos-Rand toegespreek. In die verkiesing in Mei het die party se steun vir die eerste keer sedert die koms van demokrasie onder 50-persent gedaal. Mbeki sê die hernuwing van die ANC om die steun van die mense terug te wen, sal afhang van die verbetering van die gehalte van sy ledetal:
# AfriForum vra die dringende hervorming van die Suid-Afrikaanse Polisiediens na meer as 2,4-miljard-rand sedert 2018 uitbetaal is vir onregmatige inhegtenisnemings. Die burgerregte-organisasie sê daar was in 2023/2024 ‘n styging van 70-persent in uitbetalings. Jacques Broodryk van AfriForum beklemtoon die behoefte aan verbeterde polisie-opleiding, regs-opvoeding en opknapping van stelsels om die publiek se vertroue in wetstoepassing te herstel:
# Die leier van ActionSA Herman Mashaba het bevestig die party sal onttrek aan die DA-geleide koalisie in die Tshwane-metro. Mashaba sê die party se deelname aan die Veelparty-handves het daartoe gelei dat kiesers ActionSA in die verkiesing gestraf het. Die aankondiging kom terwyl die ANC in Tshwane weer eens ‘n mosie van wantroue ingestel het teen die DA-burgemeester Cilliers Brink. Mashaba beklemtoon ActionSA soek vennote wat korrupsie tot die hoofvyand verklaar en mik daarna om ‘n nuwe regering in Tshwane te vorm wat alle inwoners sal dien.
# Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy sê hy verwag geen ontwrigting by King Shaka Internasionale Lughawe tydens die vierdaagse staking van die KwaZulu-Natalse E-taxiraad nie. Die raad sê die staking wat vandag begin gaan oor talle kwessies wat die lewensomstandighede en veiligheid raak van bestuurders en voertuigeienaars in die provinsie wat vir Uber, Bolt en inDrive werk. Dit sluit in buitensporige kommissie-fooie, kommer oor veiligheid en promosiepryse. Acsa sê hy het gebeurlikheidsplanne gereed om enige ontwrigting van lughawebedrywighede te beperk.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Jean Hugo en Ruan Korb het op 20 onder baansyfer met 63 klaargemaak om die Ubunye-kampioenskap by die Silver Lakes Gholf- en Natuurlandgoed in Pretoria te wen. Die twee beroepspelers het in spanformaat aan die Sonskyn-toer deelgeneem. Die spanne met Trevor Fisher Junior en Stefan Wears-Taylor, en Jaco Ahlers en Michael Hollick, was gesamentlik tweede met 16 onder baansyfer. Hugo sê hy en Korb het ʼn goeie balans gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-338-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-584-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….