Nuus 07:00
BULLETIN 22 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Netwerk van Afrikaner-organisasies wil ‘n kulturele verdrag skep
# Die president van Oekraïne sê die Amerikaanse militêre hulppakket sal deurslaggewend wees
# En laastens: Vandag is Wêreld Aardedag
# Die Afrikaner-leierskapsnetwerk het ʼn Gesamentlike Afrikaner-verklaring uitgereik waarin hy vra dat ʼn kulturele verdrag vir Afrikaners geskep word wat deur die regering erken word. Die netwerk bestaan uit organisasies en individue uit verskillende sektore van die Afrikaner-gemeenskap. Die netwerk se koördineerder, Theuns Eloff, sê ʼn kulturele verdrag kan kulturele samehang verseker. Die presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê daar is genoeg beskerming in die Grondwet en dis nie nodig vir ʼn spesiale ooreenkoms met enige spesifieke groep nie. Die netwerk hou vandag ʼn vergadering by die Voortrekkermonument.
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, sê die Trinity International Bible University is nie ‘n geregistreerde privaat instelling nie en het geen reg om enige kwalifikasies te bied nie. Dit volg na berigte op sosiale media die naweek dat die bekende akteur, Sello Maake Ka-Ncube, ʼn doktorsgraad van die instelling ontvang het. Nzimande se woordvoerder, Veli Mbele, sê die minister is ontsteld omdat die instelling die departement se regulasies ignoreer:
# ActionSA in Tshwane het die besluit om vyf munisipale amptenare voorlopig te skors, verwelkom. Dit hou verband met die tender vir die Rooiwal-waterbehandelingsaanleg. Hulle skorsing volg nadat hulle deur ʼn interne tugproses skuldig bevind is aan growwe nalatigheid. Die tender van 290-miljoen-rand wat onregmatig was, is aan Blackhead Consulting toegeken. ActionSA sê die amptenare se skorsing is ʼn belangrike stap om dié wat verantwoordelik was vir onreëlmatighede wat die Rooiwal-tender betref, aanspreeklik te hou.
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê hy glo nou dat sy land ʼn oorwinning teen Rusland kan behaal. Dit volg nadat die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers die langverwagte militêre hulppakket goedgekeur het. Die hulp sluit waarskynlik lugverdedigingstelsels, middel- tot langafstand-missiele en artillerie-bomme in. Die hulppakket word hierdie week na die Senaat gestuur voordat president Joe Biden dit onderteken. Zelensky sê indien Oekraïne die regte wapens kry, kan dit die situasie in die voorste linies verander.
# Tennis: Die derde gekeurde Noorweegse speler, Casper Ruud het die Barcelona Ope gewen – sy elfde en grootste loopbaantitel. Die 25-jarige het die vyfde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland met 7-5, 6-3 geklop. Die oorwinning het ook die Noorweër se nederlaag teen Tsitsipas in verlede week se Monte Carlo Ope-eindstryd gewreek. Ruud sê hy is bly om sy eerste titel van die jaar te verower:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-757-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag is Wêreld Aardedag om mense te herinner aan die belangrikheid van omgewingsbewaring en volhoubaarheid. Vanjaar se tema is Planeet teen Plastiek. Daar word ‘n beroep gedoen op regeringsleiers, sakeondernemings en gewone mense om plastiekproduksie met 60-persent te verminder teen 2040. Earthday.org werk saam met Maleisiese organisasies om die grootste opruiming in die geskiedenis van die Aardedag hierdie jaar aan te bied. Minstens 100-duisend vrywilligers gaan strande en woude in dié land skoonmaak en meer as een miljoen bome plant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….