Nuus 07:00
BULLETIN 24 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nxesi is op pad hof toe oor die omstrede vyf-miljard-rand-werksooreenkoms met die Werkloosheidsversekeringsfonds
# Die Parlement begin met die proses om intelligensiewetgewing te hervorm
# En gholf: Thriston Lawrence loop voor na die eerste ronde by die Joburg Ope
# Die minister Arbeid en Indiensneming, Thulas Nxesi, sê hy gaan hof toe om die omstrede werk-ooreenkoms van vyf-miljard-rand wat die Werkloosheidsversekeringsfonds met Thuja Holdings aangegaan het, tersyde te stel. Thuja Holdings se uitvoerende hoof en voormalige voorsitter van Productivity SA, Mthunzi Mdwaba, beweer minister Nxesi en twee ander kabinetslede het omkoopgeld van 500-miljoen-rand beding om toe te laat dat ‘n twyfelagtige werkskeppingskema deur die WVF voortgaan. Nxesi ontken die bewerings ten sterkste en sê Mdwaba moet nou sy bewerings in die hof bewys:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê hy verwelkom met versigtigheid die provinsiale regering se aanstelling van ʼn senior raadgewer om die Rand West-stad se munisipaliteit uit sy finansiële verknorsing te red. Die munisipaliteit het Eskom aan die begin van verlede maand 932-miljoen-rand geskuld terwyl sy uitstaande Rand Water-rekening 483-miljoen-rand beloop het. Die VF Plus sê hy hoop die aangestelde persoon sal opgewasse wees vir die reusetaak om die munisipaliteit van algehele verval te red.
# Die Ierse Justisie-departement het die oproer veroordeel wat in Dublin se middestad uitgebreek het ná ʼn mesaanval buite ʼn skool. ʼn Vyfjarige meisie, ʼn vrou in haar dertigs en ʼn man in sy vyftigs het ernstige beserings opgedoen. Die polisie het ʼn 40-jarige man in verband met die aanval in hegtenis geneem. Gewelddadige onluste het daarna uitgebreek waar voertuie aan die brand gesteek en winkels geplunder is. Die minister van Justisie, Helen McEntee, het die tonele as onaanvaarbaar beskryf en gesê ʼn skurkagtige en manipulerende element moenie toegelaat word om ʼn tragedie te gebruik om chaos te veroorsaak nie.
# Gholf: Thriston Lawrence kan dalk die derde speler ooit word wat twee titels by die Joburg Ope wen nadat hy by die Houghton-gholfklub met agt onder baansyfer 62 geopen het om na die eerste ronde met drie houe voor te loop. Lawrence se naaste teenstander is mede-Suid-Afrikaner Nikhil Rama met ʼn telling van vyf onder baansyfer 65. Die verdedigende kampioen, Dan Bradbury, is in ʼn groep sterk spelers op vier onder baansyfer. Lawrence sê hy het goed begin:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-359-dollar-12-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte, Kaapstad Ballet is besig met repetisies vir die feestydproduksie van die choreograaf Veronica Paeper se legendariese A Christmas Carol, met Marcel Meyer as Scrooge. Meer as 200 kinders van oor die groter Kaapstad-gebied het oudisies afgelê en 60 is gekies. Charles Dickens se verhaal oor die gemene Scrooge word van die agste tot die 29ste van volgende maand by die Teater in die Kunstekaap opgevoer. Kaartjies se pryse wissel tussen 200-rand en 400-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….