Nuus 07:00
BULLETIN 24 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die polisie word as kriminele misdaadsindikaat bedryf
# Israel en Oekraïne begin gesprekke oor die teenwerking van Iran
# En rugby: Daar is agt Junior Springbokke in die Westelike Provinsie se Curriebeker-groep
# Die Nasionale Vergadering het die Polisiedepartement se 2025/2026-begroting goedgekeur met 262 parlementslede wat daarvoor en 90 wat daarteen gestem het. Spesifieke begrotingstoekennings vir die departement sluit in 219-miljoen-rand vir sekerheid by die G20-konferensie, en 400-miljoen-rand vir die 2026 plaaslike-regeringsverkiesing. Leigh-Ann Mathys van die EFF verwerp die begroting en noem die polisiediens ‘n misdaadsindikaat wat onwettige aktiwiteite beskerm eerder as om misdaad te beveg:
# Die GOOD-party sê die regering mag nie swig onder druk van die VSA nie, selfs al is dit teen ‘n prys. Dit volg nadat die Amerikaanse Kongres ’n wetsontwerp goedgekeur het wat kan lei tot nuwe strafhandelstariewe. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron het AfriForum en Solidariteit gekritiseer dat hulle ‘n skuif ondersteun wat Suid-Afrika straf vir sy bande met BRICS, die ondersteuning van Palestina en pogings om die onregte van die verlede aan te spreek:
# Eskom sê die stigting van ‘n selfstandige ‘GreenCo’-hernubare krag-eenheid sal help om privaat vennote te lok en aan die vraag na groen energie voldoen. Die uitvoerende hoof van strategie en volhoubaarheid, Nontokoza Hadebe, het tydens die Steenkool- en Energie-oorgangsdag in Johannesburg bevestig dat Eskom beoog om 20 gigawatt hernubare energie teen 2035 te ontwikkel, met vyf gigawatt uit die herlewing van ou steenkoolkragstasies. Hadebe sê Eskom Green sal fokus op sonkrag, wind, batterye en waterstof, terwyl Eskom Generation fossielbates sal behou. Dié stap ondersteun Suid-Afrika se energie-oorgang.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste verwerp bewerings dat ʼn beskuldigde in die Senzo Meyiwa-moordverhoor, Fisokuhle Ntuli, by die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria gemartel is. Ntuli beweer bewaarders by die C-Max-afdeling mishandel hom, en weier foonoproepe en toegang tot sy prokureurs. Regter Ratha Mokgoatlheng het beveel dat hy na die Leeuwenkop-tronk oorgeplaas word. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê Ntuli se bewerings is ongegrond en misleidend:
# Israel en Oekraïne het ingestem tot strategiese onderhandeling om Iran se bedreiging teen te staan. Israel het Iran herhaaldelik beskuldig dat hy kernwapens ontwikkel, maar Iran ontken dit. Intussen val Rusland gereeld Oekraïne aan met hommeltuie wat Iran ontwerp het. Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Andriy Sybiha, het gister in Kiev met sy Israelse ampsgenoot, Gideon Sa’ar, beraadslaag. Sybiha sê Teheran gaan voort om die streek te destabiliseer, sy kernprogram uit te brei en wapens aan terroristegroepe te verskaf. Hy sê Iran bedreig wêreldveiligheid.
# Rugby: Daar is agt wêreldkampioen- Junior Springbokke in die Westelike Provinsie-groep vir die Curriebeker. Die WP begin hul veldtog Saterdag met ‘n Noord-Suid-botsing teen die Bulle in Kaapstad. Die Junior Springbok-kaptein Riley Norton is saam met sy spanmaats Xola Nyali, Wandile Mlaba, Oliver Reid, Herman Lubbe, Siya Ndlozi, Dominic Malgas en Gino Cupido in die senior groep, hoewel hulle eers volgende week vir moontlike insluiting in aanmerking sal kom. Hulle het die week uit Italië teruggekeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-987-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-390-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….