Nuus 07:00
BULLETIN 22 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula neem spesiale verlof te midde van haar korrupsie-ondersoek
# Die Amerikaanse Departement van Justisie maak ‘n regsgeding aanhangig teen Apple
# En rugby: Vier nuwelinge word ingesluit in die Springbok-vrouespan teen Spanje
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula sê sy gaan met onmiddellike ingang spesiale verlof neem om die integriteit van die Parlement te beskerm. Sy sê terwyl die Ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag ‘n deursoeking- en beslagleggingsklopjag by haar huis uitgevoer het, was daar geen formele arrestasiebevel of kommunikasie oor ‘n dreigende inhegtenisneming nie. Sy word daarvan beskuldig dat sy meer as twee-miljoen-rand van ‘n kontrakteur ontvang het terwyl sy minister van Verdediging was. Mapisa-Nqakula sê sy is bereid om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, sê dis belangrik om in die komende verkiesing te stem. Sy het ’n konferensie oor interregeringsverhoudings by die Universiteit van die Wes-Kaap toegespreek en sê dit simboliseer burgers se toewyding aan demokrasie. Nkadimeng sê Suid-Afrikaners moet verenig en beklemtoon dat om te stem ‘n mensereg is wat deur anti-apartheidsaktiviste en veterane se opoffering verkry is. Die verkiesing vind op 29 Mei vanjaar plaas.
# Gauteng se LUR vir Menslike Nedersettings, Lebogang Maile, sê hulle gaan ʼn interregering-benadering volg om dringende probleme in Diepkloof aan te spreek. Hy en Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, het gister met inwoners van die Diepkloof-hostel in Soweto vergader nadat inwoners vroeër die week oor dienslewering betoog het. Maile sê sommige mense in die hostel sal verskuif word na 67 nabygeleë woonstelle wat gebou is, terwyl die res in tydelike strukture sal bly wat binnekort opgerig sal word:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het ʼn monopolie-geding teen Apple ingedien. Hy beskuldig die tegnologiereus dat hy die slimfoonmark oorheers en die kompetisie benadeel. Die saak is ʼn direkte uitdaging teen die maatskappy se belangrikste produkte en praktyke wat sy iMessage-diens insluit, asook hoe toestelle soos die iPhone en Apple Watch skakel. Die prokureur-generaal, Merrick Garland, sê Apple se gedrag het ontwikkelaars en verbruikers benadeel:
# Rugby: Vier nuwe spelers is by die Springbok-vrouespan ingesluit wat Spanje môre in ʼn eenmalige toets by die Pepe Rojo-stadion in Valladolid takel. Xoliswa Khuzwayo en Anathi Qolo is in die beginspan terwyl Aliyah Tchogna-Njamen en Samantha Els vir hierdie kragmeting op die bank ingesluit is. Afrigter Louis Koen sê dis belangrik dat so veel as moontlik spelers internasionale ervaring opdoen in aanloop tot die Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi wat in Mei in Madagaskar plaasvind:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-490-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-174-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-20-sent per vat.
# En laastens: Die laaste seisoen van Netflix se reeks The Crown loop met agt benoemings voor by vanjaar se Bafta TV-toekennings, ten spyte van omstredenheid oor sy uitbeelding van die koninklike familie. Happy Valley en Black Mirror se laaste episode, Demon 79, het albei sewe benoemings ontvang, en Slow Horses, The Sixth Commandment en Succession ses elk. Alhoewel The Crown voorloop, is dit nie vir beste dramareeks benoem nie. Die vier benoemdes in daardie kategorie is The Gold, Happy Valley, Slow Horses en Top Boy. Die hoofgeleentheid is op 12 Mei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….