Nuus 07:00
BULLETIN 20 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Opposisiepartye vra dat Nosiviwe Mapisa-Nqakula bedank aangesien haar integriteit bevraagteken word
# President Ramaphosa sê die landbou-meesterplan het ten doel om 75-duisend nuwe poste teen 2030 te skep
# En rugby: Die Springbokke pak Skotland in November
# Die DA eis die bedanking van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ná berigte oor ‘n klopjag deur die Valke op haar huis in Johannesburg weens korrupsiebewerings. Mapisa-Nqakula het na bewering 2,3-miljoen-rand kontant gevra en ontvang tydens haar ampstermyn as minister van Verdediging. Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê die openbare vertroue in die wetgewer kan net beskerm word indien sy onmiddellik bedank om integriteit en aanspreeklikheid te handhaaf:
# Die Vryheidsfront Plus sê intussen die speaker moet in die beste belang van die Parlement optree en bedank. Die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, sê indien Mapisa-Nqakula in haar amp aanbly, tas dit die Parlement se integriteit aan:
# President Cyril Ramaphosa sê die landbou- en agri-prosseserings-meesterplan wil huidige werksgeleenthede behou en teen 2030 nog 75-duisend nuwe poste skep. Ramaphosa het mondelinge vrae in die parlement beantwoord en gesê inisiatiewe soos die nasionale landelike jeugdienskorps en die presidensiële indiensneming-stimulus help ook met vaardigheidsontwikkeling en indiensneming, en het dié jaar reeds meer as een-duisend-100 werksgeleenthede moontlik gemaak. Meer as 180-duisend landbou-produksie-insetbewyse is uitgereik om bestaansprodusente te help. Steun is ook uitgebrei na meer as 62-duisend ander mense om self-indiensneming en voedselsekuriteit te verbeter:
# Die Stad Johannesburg het sy konsepbegroting vir die 2024/2025-boekjaar gister by die gewone raadsvergadering voorgelê. Na wat berig word gaan watertariewe in die nuwe boekjaar met 7,7-persent styg, elektrisiteit met tot 10,7-persent, en vullisverwydering met 5,9-persent. Die konsepbegroting gaan in die nuwe boekjaar toeneem van 80,9-miljard-rand tot 83-miljard-rand. Die raad gaan vandag voort om die items op die begroting deur te gaan en goed te keur.
# Hongkong het ‘n streng sekerheidswet aanvaar wat volgens die owerhede nodig is vir bestendigheid, maar wat kritici vrees burgerlike vryheid verder sal verwoes. Die wet brei uit op ‘n omstrede nasionale veiligheidswet wat vroeër deur China ingestel is, en wat skeiding, ondermyning, terrorisme en sameswering met buitelandse magte in Hongkong kriminaliseer. Kritici sê die nuwe wet is nog ‘n verpletterende slag vir menseregte. Volgens Human Rights Watch in Hongkong kan selfs die besit van ‘n boek wat die Chinese regering kritiseer, nou as ‘n gevaar vir nasionale veiligheid gesien word en tot jare se tronkstraf lei.
# Rugby: Die heersende wêreldkampioen, Suid-Afrika speel op die tiende November teen Skotland op Murrayfield. Dit is deel van Skotland se internasionale herfstoetse, wanneer hulle ook teen Fidji, Portugal en Australië uitdraf. Die Springbokke en Skotland het laas in verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi teen mekaar gespeel. Die Bokke het die groepsfase-wedstryd met 18-3 gewen. Skotland het vierde geëindig in die Sesnasies-kampioenskap. Die hoofafrigter Gregor Townsend sê om die wêreldkampioen aan te durf is die grootste moontlike toets vir enige span op die oomblik en hulle sien uit na die wedstryd.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-777-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….