Nuus 06:00 (DGO) 8 Februarie
BULLETIN 8 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê vanjaar se staatsrede het spesiale betekenis
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê baie werk is nodig om die Israel-Hamas-konflik te beëindig
# En sokker: Nigerië klop Suid-Afrika en gaan deur na die Afrikabeker-eindstryd
# Die Presidensie sê vanjaar se staatsrede het spesiale betekenis want dis nie net die einde van ‘n termyn nie, maar is ook in aanloop tot Suid-Afrika se viering van 30 jaar van vryheid en demokrasie. President Cyril Ramaphosa lewer vanaand die Staatsrede. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya sê Ramaphosa sal prestasies uitlig, aandag vestig op uitdagings, en ingrypings uiteensit om die land se ontwikkeling te ontsluit. Hy sê die president sal die regering se belangrike beleidsdoelwitte en wat hy die jaar wil lewer, uiteensit.
Intussen wag die EFF angstig op ‘n hofuitspraak wat sal bepaal of sy geskorste parlementslede, insluitend Julius Malema en Floyd Shivambu, vanaand se Staatsrede sal mag bywoon. Ses EFF-lede is uit parlementêre bedrywighede geskors nadat hulle tydens verlede jaar se Parlementsopening die verhoog bestorm het. Dit beteken hulle word verbied om die laaste Staatsrede van die huidige administrasie by te woon. Volgens die party se sekretaris-generaal Marshall Dlamini is hulle daartoe verbind om Ramaphosa aanspreeklik te hou.
# Die vakbond Solidariteit waarsku oor ‘n moontlike moeder van alle hofstryde teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering. Die Hooggeregshof in Pretoria besin vandag oor die Gesondheidsdepartement se besluit om voor parlementêre goedkeuring senior poste by die NGV te adverteer en te vul. Die vakbond gaan die grondwetlikheid van die NGV uitdaag in ‘n reeks regsaansoeke regdeur die jaar. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, Anton van der Bijl, glo die advertering van poste is onwettig en wys op die regering se haas om die NGV deur te dwing ondanks teenkanting.
# Die DA het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om die heraanstelling van die Johannesburgse stadsbestuurder, Floyd Brink, te betwis. Die party wil die besluite wat tot Brink se heraanstelling gelei het, as ongrondwetlik, onwettig en ongeldig laat verklaar. Hulle vra ook dat enige diens- of prestasiekontrakte met Brink op soortgelyke wyse ongeldig gemaak word. Die DA is van plan om die burgemeester, Kabelo Gwamanda, en die speaker, Margaret Arnolds, van minagting van die hof aan te kla oor Brink se permanente aanstelling.
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê baie werk is nodig om die gaping tussen Israel en Hamas te oorbrug. Amptenare van die militante groep het gister reageer op ‘n skietstilstand-voorstel waarvolgens gyselaars is drie fases vrygelaat sal word, ‘n aanvanklike 45-dae skietstilstand en die volledige onttrekking van Israelse magte uit Gaza. Blinken sê hulle beskou steeds onderhandelinge as die beste oplossing om vrede in Israel en Gaza te bereik.
# Sokker: Die driemalige kampioen, Nigerië, het Suid-Afrika vier-twee met strafskoppe verslaan om na die Afrikabeker-eindstryd deur te dring. William Troost-Ekong het die Super Eagles halfpad deur die tweede helfte met ‘n strafskop laat voorloop. Bafana Bafana het egter die telling gelykop gemaak met ‘n skop deur Teboho Mokoena. Sake was na afloop van ekstra tyd nog steeds gelykop. Doelwagter Stanley Nwabali kon twee strafskoppe afweer en Nigerië het daarmee ‘n plek in die eindstryd verseker waar hulle teen die gasheer Ivoorkus te staan sal kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-524-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-37-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….