Nuus 06:00
BULLETIN 9 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sal vandag oor Jacob Zuma se kandidatuur besluit
# Minister Kiviet beklemtoon die indiensneming van etiese en bekwame staatsamptenare
# En die premier van die Wes-Kaap is bekommerd oor skade aan die elektrisiteitsinfrastruktuur
# Die Hooggeregshof in Johannesburg sal vandag elektronies uitspraak lewer oor voormalige president Jacob Zuma se geskiktheid om aan die verkiesing deel te neem as ‘n uMkhonto we Sizwe-party kandidaat. Die party wil die Verkiesingskommissie se diskwalifikasiebesluit weens sy kriminele rekord omkeer. Zuma betoog hy is voortydig uit die presidensie geskop en daar is onafgehandelde sake. Regter Lebogang Modiba sê gegewe die OVK se bindende program kan die hof redes ter syde stel.
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, sê die regering verbeter voor-indiensnemingsprosesse om die aanstelling van etiese en bekwame staatsamptenare te verseker. Sy het meer as 300 staatsamptenare in KwaZulu-Natal toegespreek oor verskeie kwessies; van ontwikkelende openbare sektor-hervormings tot die professionalisering van die Staatsdiens. Kiviet sê die Nasionale Raamwerk vir die Professionalisering van die Staatsdiens is noodsaaklik, aangesien dit ‘n geleentheid bied vir ingrypende hervormings in die openbare sektor.
# Die DA wil verseker elke hof in die land funksioneer optimaal om openbare vertroue in die regstelsel te herstel. Dit volg na ‘n oorsigbesoek verlede week aan die Landdros- en Hooggeregshowe in Pretoria, waar hulle kommerwekkende tekortkominge ontdek het. Onbenutte hofsale, tekorte aan personeel en onreëlmatighede met bedryf het vertragings met hangende sake vererger. ‘n Woordvoerder van die DA, Glynnis Breytenbach, vra vir verbeterings, insluitende outonomie met begrotings en aanstellings wat op meriete gebaseer is, ter wille van hierdie kwessies en om die integriteit van die regstelsel te handhaaf:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde sê hy is bekommerd oor die uitwerking van die sterk wind op die elektrisiteits-infrastruktuur. Swaar weer wat dele van die provinsie geteister het, het minstens een lewe in die Paarl geëis. Altesaam 26 skole is beskadig. Die gure weer het kragonderbrekings in verskeie Weskus-dorpe en die Lourensford- en Gordonsbaai-gebiede veroorsaak. Winde sê, rampbestuur- en nooddienspersoneel se optrede was ongelooflik om die veiligheid van inwoners te verseker.
# Duitsland verdedig homself vandag voor die Internasionale Geregshof in ‘n saak van die beweerde oortreding van die Volksmoordkonvensie van die Verenigde Nasies, wat deur Nicaragua gebring is. Die Sentraal-Amerikaanse land vra die hof om Berlyn se wapenverkope aan Israel te verbied en voer aan die verkope kom neer op volksmoord en omdat befondsing van die VN se hulpagentskap, Relief and Works Agency for Palestine Refugees, gestaak is. BBC News berig Duitsland het verlede jaar 23-persent van Israel se militêre toerusting verskaf, ter waarde van 6,7-miljard-rand.
# Tennis: Die groot kanonne begin vandag met hulle Monte Carlo-meestersveldtogte na hulle loslootjies in die eerste ronde. Wêreld-nommereen Novak Djokovic van Serwië het die kleibaantoernooi twee keer gewen, maar kon sedert 2015 nie verder as die kwarteindstryd vorder nie. Die tweede-gekeurde Jannik Sinner van Italië is op die oomblik die speler om dop te hou, nadat hy tot dusver vanjaar drie toernooie ingepalm het. Die derde-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz is bietjie onseker of sy enkel genoegsaam herstel het. Die Rus Daniil Medvedev is vierde-gekeur en die Duitser Alexander Zverev, vyfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-170-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….