Nuus 06:00
BULLETIN 5 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Mapisa-Nqakula se besluit om te bedank moet geloof word
# Rugby: Dit is ‘n maak-of-breek-naweek vir vyf Suid-Afrikaanse spanne
# En die Weerdiens waarsku teen ‘n ernstige verandering in weerpatrone oor die naweek
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se besluit om te bedank moet geloof word. Sy het gister haar eerste verskyning in die Pretoria-landdroshof gemaak op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Sy is uit op borgtog van 50-duisend-rand. Ramaphosa het tydens ‘n geleentheid in KwaZulu-Natal gesê, Mapisa-Nqakula het nie bedank omdat sy skuldig is nie, maar omdat sy die Parlement, die ANC en die regering respekteer:
# Die EFF sê die aflegging van vier-duisend-700 Suid-Afrikaanse Poskantoorwerkers, gedryf deur sakeredding, is gevoelloos en onregverdig. Die party gee die ANC-regering se wanbestuur van staatsondernemings die skuld en stel skuldverligting en die modernisering vir SAPO onder ‘n EFF-geleide regering voor. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê ondanks ‘n aansienlike reddingsboei bly SAPO finansieel onbestendig, met die sluiting van 235 poskantore wat die werkloosheidskrisis vererger. Mathys doen ‘n beroep op kiesers om in die komende verkiesing die EFF-plan vir staatsondernemings te oorweeg.
# ‘n Onafhanklike regsfirma se ondersoek na die verdrinking tydens ‘n kamp van ‘n graad 7-leerder van die Laerskool Queenswood, Latoya Temilton, het bevind daar was die minimum toesig deur onderwysers en die skoolhoof. Die direkteur van Nchupetsang-prokureurs, Meshack Nchupetsang, het onthul daar was geen lewensredders of behoorlike afbakening by die swembad waar Latoya verdrink het nie. Die firma beveel aan die skoolpersoneel moet aangekla word van nalatigheid en sê daar was ‘n gebrek aan beplanning en behoorlike uitvoering van die uitstappie:
# Die stigter van World Central Kitchen, José Andrés, beskuldig Israelse magte in Gaza daarvan dat hulle sy hulpwerkers stelselmatig, voertuig vir voertuig, teiken. Sewe van sy werkers is dood in ‘n Israelse lugaanval in Gaza terwyl hulle ‘n pakhuis in Deir al-Balah verlaat het waar hulle voedselhulp afgelaai het. Drie Britse burgers was onder die vermoordes, saam met Australiese, Poolse en Palestynse werkers en ‘n VSA-Kanadese burger. Andrés het gevra vir ‘n onafhanklike ondersoek:
# Rugby: Dis nou of nooit vir die vyf Suid-Afrikaanse spanne die naweek in die ronde van 16 in Europese kompetisies. Die Bulle en die Stormers speel in die Kampioenebeker, en die Haaie, die Leeus en die Cheetahs in die Uitdaagbeker. Die Bulle ontvang Lyon Saterdag op Loftus en die Stormers verwelkom La Rochelle in Kaapstad. Die Haaie speel teen Zebre Parma tuis in Durban. Die Leeus kom te staan teen Benetton in Italië, en die Cheetahs pak Clermont in Frankryk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-127-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-271-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n afsny-laedrukstelsel sal lei tot wydverspreide buie, sterk wind en hewige donderstorms vir die naweek en vroeg volgende week. Hoofvoorspeller Kevin Rae sê gebiede wat geraak word sluit in die westelike en noordelike binneland. Tropiese vog uit buurlande kan lei tot verspreide buie, met ‘n risiko van oorstromings, oor die sentrale en oostelike dele:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….