Nuus 06:00
BULLETIN 4 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lechesa Tsenoli sal vir eers aanbly as waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering
# Die regering veroordeel die dodelike lugaanval op die Iranse konsulaat in Sirië
# En rugby: ’n Volgepakte stadion word verwag vir die naweek se sewestoernooi in Hongkong
# Die Parlement sê die adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, sal voortgaan in sy rol as waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering. Dit volg op die onmiddellike bedanking van Nosiviwe Mapisa-Nqakula te midde van korrupsiebewerings. Sy is vasbeslote dat haar bedanking geensins ‘n erkenning van skuld is rakende die aantygings wat teen haar gemaak is nie. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê Mapisa-Nqakula se besluit is gedryf deur ‘n diep respek vir die integriteit van die Parlement:
Die DA het intussen die bedanking van Mapisa-Nqakula, verwelkom en sê dit is hoogtyd. Siviwe Gwarube van die DA sê enigiemand wat dié hoë amp beklee behoort onberispelik te wees, en Mapisa-Nqakula is nie geskik daarvoor nie:
# Die Stad Ekurhuleni hou vandag ‘n buitengewone vergadering om ‘n nuwe burgemeester te kies, ná die verwydering van burgemeester Sivuyile Ngodwana. Die besluit, gesteun deur 47 raadslede, het gevolg op ‘n mosie van wantroue in Ngodwana tydens verlede week se gewone raadsitting. Spanning het toegeneem toe ‘n bakleiery uitgebreek het tussen die ANC en die EFF oor die agenda-prioriteite wat die raadsprosedure vertraag het. ActionSA het die mosie teen Ngodwana voorgelê, terwyl die DA ‘n mosie ingedien het teen die speaker van die raad, Nthabiseng Tshivhenga.
# Die polisie in Mpumalanga verskerp pogings om die sewe verdagtes wat aangekeer is tydens ‘n transito-rooftogpoging in Emalahleni met ander misdade te verbind. Gister se skietgeveg met die polisie het uitgeloop op die dood van vyf gewapende verdagtes. Die polisie het ‘n vrag vuurwapens in beslag geneem, wat drie AK47’s insluit, asook ammunisie. Die woordvoerder Donald Mdluli sê ondersoeke is aan die gang om enige verband op te spoor met vorige misdade en die kriminele operasies in die provinsie te beëindig:
# Die Suid-Afrikaanse regering het die onlangse lugaanval op die Iranse konsulaatgebou in die hoofstad van Sirië, Damaskus, veroordeel. Sewe mense, insluitend ‘n senior bevelvoerder van Iran se elite Revolusionêre Wag is dood in die aanval wat na bewering deur Israel uitgevoer is. Die regering sê hy beskou ‘n aanval op ‘n diplomatieke of konsulêre instelling as ‘n flagrante skending van internasionale reg. Hy doen ‘n beroep op die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad om die skuldiges tot verantwoording te roep en sê die aanval is ‘n skending van Sirië se soewereiniteit, onafhanklikheid en territoriale integriteit.
# Rugby: Die Blitsbokke en die ander elf spanne kan die naweek ‘n volgepakte Hongkong-stadion verwag vir die Chinese gebied se wêreldreekstoernooi. Wêreldrugby sê al 120-duisend kaartjies vir die drie-daagse byeenkoms is verkoop. Suid-Afrika speel sy groepswedstryde teen Ierland, Samoa en Spanje. Die Blitsbokke, met die voormalige seweskaptein Philip Snyman as nuwe hoofafrigter, hoop om te verbeter op hulle sewende plek op die punteleer. Hulle het die openingtoernooi in Dubai gewen, maar in die volgende vier toernooie teleurgestel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-185-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-300-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….