Nuus 06:00
BULLETIN 27 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC en MK-party se kopieregstryd dien vandag voor die Hooggeregshof in Durban
# Minister Nzimande kritiseer die bestuursmislukking by Educor
# En Joe Biden sê daar is geen aanduiding dat die ineenstorting van die brug in Baltimore ‘n opsetlike daad was nie
# Die regstryd tussen die ANC en Umkhonto we Sizwe is vandag geskeduleer vir ‘n ope hofverhoor in die Hooggeregshof in Durban. Die ANC beweer kopieregskending deur die MK-party omdat sy vernoeming van homself na die ANC se ontbinde gewapende vleuel handelsmerkdiefstal is. Intussen het die hof media-teenwoordigheid beperk en slegs 15 lede toegelaat, insluitend verslaggewers en fotograwe, en video- of TV-kameras verbied weens beperkte hofsaalspasie.
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande sê sy departement sal nie aandadig wees aan growwe bestuursmislukking en die versuim om aan bepalings te voldoen nie. Dit volg nadat Damelin, City Varsity, Icesa City Campus en Lyceum College, wat deur Educor besit word, as hoëronderwysinstellings gederegistreer is. Sedert 2020 het die privaat kolleges nie geouditeerde finansiële jaarstate ingedien en aan sekere regulasies voldoen nie. Nzimande het besonderhede gegee oor die klagtes wat ontvang is:
# Build One South Africa sê die DA-beheerde Wes-Kaap het ‘n sterk opposisie nodig wat hom aanspreeklik hou om dienslewering en werkskepping te bevorder. Die party het gister sy verkiesingsplakkate vir die verkiesing op 29 Mei buite die Parlement onthul. Die BOSA-leier, Mmusi Maimane sê sy party is daartoe verbind om ‘n Wes-Kaap te bou met geleenthede vir almal waar weggedoen word met geskiedkundige patrone van insluiting en uitsluiting:
# Die DA het Cilliers Brink se voortsetting as die Stad Tshwane se burgemeester bevestig. Brink het van ‘n parlementêre setel onttrek om Tshwane se bestendigheid bo persoonlike politieke drome te kies. Hy beklemtoon die koalisie se belangrikheid in die bekamping van korrupsie en die verbetering van bestuur. Brink se pogings sluit in die werwing van nuwe bestuurders, die bevordering van privaat energie-opwekking en die verbetering van oudit-uitkomste. Brink sê ten spyte van uitdagings bly hy verbind tot die DA se bestuurstandaarde. Hy sê die besluit strook met die koalisie se behoefte aan standvastige leierskap.
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê daar is geen aanduiding dat die ineenstorting van die Francis Scott Key-brug in Baltimore ‘n opsetlike daad was nie. Agt mense was op die brug toe ’n vragskip gister daarin vasgevaar het. Twee slagoffers is uit die water gered terwyl ses nog vermis word. Biden sê die soek-en-reddingsoperasie is tans die topprioriteit:
# Krieket: Die snelbouler Nandré Burger en die kolwer Tony de Zorzi het vir die eerste keer nasionale kontrakte van Krieket Suid-Afrika ontvang, terwyl die bouler Gerald Coetzee ’n voltydse kontrak kry. Coetzee speel tans in die Indiese Premierliga vir Mumbai Indians, wat hom vir ‘n yslike 11,4-miljoen-rand gekoop het. Die veelsydige Andile Phehlukwayo het sy Protea-kontrak teruggekry. Onder die vroue het die snelbouler Ayanda Hlubi en die veelsydige speler Eliz-Mari Marx hul eerste nasionale kontrakte gekry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-675-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-178-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….