Follow Us
Tennis: Djokovic’s mother says he is being treated like a prisoner in Australia
Fri 7th Jan 2022
News 06:00
Fri 7th Jan 2022
Print Friendly, PDF & Email

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 6 vm

Goeiemôre,

In die bulletin:

# Die Kajuitbemanningsvereniging sê Dudu Myeni het nie alleen opgetree met die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Lugdiens nie
# Die verdagte wat na bewering die vensters van die Konstitusionele Hof in Braamfontein stukkend geslaan het, verskyn vandag in die hof in Hillbrow
# En, die verskuiwing van die Parlement na Pretoria moet die omvang van die skade aan die gebou in Kaapstad in berekening bring

# Die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging sê voormalige raadsvoorsitter Dudu Myeni het nie alleen opgetree in die gebeure wat tot die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gelei het nie. Die vereniging sê almal wat vir die lugdiens se ineenstorting verantwoordelik is, moet aanspreeklik wees. Die staatskapingsverslag beveel aan dat Myeni vervolg moet word. Zazi Nsibanyoni-Mugambi van die vereniging glo al die destydse raadslede behoort ook die volle mag van die wet in die gesig te staar vir die rol wat hulle gespeel het:

Speel klankgreep: ENG-Zazi

# Die 36-jarige man wat in hegtenis geneem is omdat hy na bewering vensters van die Konstitusionele Hof in Braamfontein met ‘n hamer stukkend geslaan het, sal vandag in die Hillbrow Landdroshof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging. Sy verskyning volg terwyl die saak van die 49-jarige Zandile Christmas Mafe oor die brand in die Parlement tot volgende Dinsdag uitgestel is. Mafe verskyn op twee aanklagte van brandstigting, die besit van ‘n ploftoestel, inbraak en diefstal asook die vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur.

# Professor Rachidi Molapo van die Universiteit van Venda sê die omvang van die skade aan die Parlement se gebou in Kaapstad moet in berekening gebring word wanneer die moontlikheid oorweeg word om die Parlement na Pretoria te verskuif. Dié politieke ontleder glo die Parlement moet sy basis hê waar dit maklik toeganklik is vir ‘n meerderheid van die land se burgers. Molapo ondersteun die oproep om die Parlement na Gauteng te verskuif:

Speel klankgreep: ENG-Molapo

# Die hoof van die Wêreld-gesondheidsorganisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê die meer aansteeklike Omikron-variant van COVID-19 veroorsaak ‘n minder ernstige siektetoestand as die wêreldwye dominante Delta-variant, maar dit moet nie as lig geklassifiseer word nie. Hy vra vir groter globale gelykheid met die verspreiding van en toegang tot entstowwe. Volgens Reuters waarsku hy dat teen die huidige tempo van entstof-verspreiding, 109 lande die WGO-teiken gaan mis dat 70-persent van die wêreld se bevolking teen Julie ten volle ingeënt moet wees.

# Die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie sê wêreld-voedselpryse het in 2021 ‘n 10-jaar-hoogtepunt bereik, en het gemiddeld met 28-persent gestyg, vergeleke met die vorige jaar. AFP berig die prys van voedsel-olies het verlede jaar gemiddeld met 66-persent gestyg, om die hoogste vlak nog ooit te bereik. Graanpryse het met 27-persent gestyg tot die hoogste vlak sedert 2012. Mieliepryse het met 44,1-persent gestyg terwyl die prys van koring met gemiddeld 31,3-persent geklim het. Vleispryse was in 2021 gemiddeld 12,7-persent hoër en suiwelprodukte het met 16,9-persent gestyg.

# Krieket: Die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Indië sal in die derde en laaste kragmeting beslis word, nadat die Proteas gister met sewe paaltjies by die Wanderers in Johannesburg gewen het. Kaptein Dean Elgar was stewig aan die stuur en onoorwonne op 96 toe die gashere die wenlopies laatmiddag op die vierde dag aangeteken het. Hy is suksesvol ondersteun deur Rassie van der Dussen en Temba Bavuma, wat onderskeidelik 40 en 23 in twee agtereenvolgende vennootskappe aangeteken het. Die laaste toets begin Dinsdag op Nuweland in Kaapstad.

# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-70-sent teen die dollar, 17-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-987-dollar-7-sent. Die prys van goud is een duisend-791-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-48-sent per vat.

Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….

Our team is here to answer your questions. Editorial questions? Chat to the Editor on duty Free Trial or general questions? Chat to Debbie Technical issues? Chat to our Tekkie
WeCreativez WhatsApp Support
Free Trial / General Enquiries
Debbie Oosthuizen: GM
Available
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Peet Bothma
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Andries Cornelissen
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Lusanda Bill
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Technical Support
Tekkie
Available
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Mariana Vos
Available