Nuus 06:00
BULLETIN 8 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die reddingsoperasie by die gebou-ineenstorting in George word verskerp
# Minister Kodwa doen stappe teen die DA se vlagbrand-advertensie
# En twee Oekraïnse offisiere word aangehou oor ‘n beweerde komplot om Zelensky te vermoor
# Wes-Kaapse Rampbestuur sê almal wat nog vasgekeer is onder die puin van die ineengestorte verdiepinggebou in George, sal vir die volgende drie dae as lewend beskou word. Soek- en reddingspogings duur intussen voort. Sewe van die 75 konstruksiewerkers wat op die terrein was ten tyde van die ineenstorting, is dood, terwyl 41 vasgekeer is. Die hoof van Wes-Kaapse Rampbestuur, Colin Deiner, sê hulle het begin om die lae rommel te verwyder:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, oorweeg optrede teen die DA se omstrede advertensie waarin die Suid-Afrikaanse vlag verbrand word. Die DA het die advertensie verdedig en sê dit versinnebeeld kommer oor die toestand waarin die land verkeer. Kodwa se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê die minister het regeringsamptenare opdrag gegee om advies in te win oor moontlike optrede teen die skending van nasionale simbole:
Intussen het die voorsitter van die Nasionale Raad van die DA, Helen Zille, die party se omstrede advertensie verdedig en gewys op die noodsaaklikheid om op die naakte waarheid te fokus. Volgens Zille waarsku die advertensie oor ‘n koalisie tussen die ANC, EFF, MK-party en die Patriotic Alliance en die gevolge daarvan op die demokrasie en ekonomie. Sy vra vir optrede deur kiesers om verdere skade te voorkom en vra kiesers om in die komende verkiesing tussen brandstigters en bouers te besluit.
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Minerale Bronne en Energie, Sahlulele Luzipo, het sy kommer uitgespreek oor Shell se besluit om uit Suid-Afrika te onttrek. Die Britse multinasionale olie- en gasmaatskappy herskik sy portefeulje en sal sy aandeelhouding in sy kleinhandel-belang in die land verkoop. Shell bedryf sowat 700 diensstasies in die land. Luzipo sê enige maatskappy wat die land verlaat wanneer belegging nodig is, word betreur en is ‘n bekommernis.
# Twee Oekraïnse militêre offisiere is agter tralies vir hul beweerde betrokkenheid by ‘n Russiese komplot om president Volodymyr Zelensky te vermoor. Die land se staatsveiligheidsdiens sê die komplot is gefnuik. Die twee kolonels in die regerings-beskermingseenheid word beskuldig van ondermynende aktiwiteite in ruil vir finansiële vergoeding. Hulle word van hoogverraad aangekla, terwyl een ook van voorbereiding vir ‘n terreurdaad aangekla word. Luidens berigte het die beskuldigdes die sluipmoord beplan as ‘n geskenk aan die Russiese president Vladimir Putin vir sy inhuldiging vir ‘n vyfde termyn.
# Rugby: Die Engelse flank Tom Curry kan na Sale Sharks se span terugkeer vir Vrydag se Premierskapswedstryd teen Leicester Tigers nadat hy in November ‘n heup-operasie ondergaan het. Hy het in die Wêreldbekertoernooi laas gespeel, toe hy omstredenheid veroorsaak het deur die Springbok-haker Bongi Mbonambi van rassisme te beskuldig. Dit het gebeur nadat sy land in die halfeindronde teen die uiteindelike kampioen verloor het. Currie het die sokkerspan Manchester United se geriewe gebruik om hom te help herstel, insluitend ‘n trapmeul wat die uitwerking van swaartekrag verander.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-612-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….