Nuus 06:00
BULLETIN 24 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se inflasiekoers het gestyg in vergelyking met ander lande s’n
# GOOD verwelkom die onveranderde rentekoerse, maar het ‘n waarskuwing vir verbruikers
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie vra China vir meer besonderhede oor ‘n onverklaarbare uitbreking van longontsteking
# Suid-Afrika se oorkoepelende inflasiekoers toon ‘n meer geleidelike toename in vergelyking met baie ander ontluikende en gevorderde ekonomieë. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het die rentekoers bespreek en beklemtoon hoe sensitief die land se inflasiekoers vir skokke is. Hy sê die behoefte aan eksterne finansiering gaan in die fiskale landskap in Suid-Afrika toeneem namate die tekort op die lopende rekening styg, aangevuur deur verbeterde handelsuitkomste in die derde kwartaal. Die sentrale bank het rentekoerse onveranderd gelaat:
Die GOOD Party verwelkom intussen die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die terugkoopkoers op 8,25-persent te behou, wat tydelike verligting bied te midde van groeiende finansiële druk. Met inflasie wat in Oktober 5,9-persent bereik het en aangevuur word deur stygende voedselpryse, glo die party dat verbruikers voor uitdagings staan net om te oorleef. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, sê egter die onveranderde rentekoerse sal wel onmiddellike spanning verlig, maar verbruikers moet ‘n uitwerking verwag op besteding in die feestyd:
# ‘n Amptenaar van die Gautengse Departement van Onderwys het gister ‘n aanslag op sy lewe in die suide van Johannesburg oorleef en is tans in ‘n stabiele toestand in die hospitaal. Die man is ‘n toesighouer oor Leer- en Onderrig-ondersteuningsmateriaal by die departement se kantore in die Johannesburg-Suid-distrik. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die amptenaar was in sy voertuig by die kruising van Chris Haniweg en Golden Highway naby die Southgate Mall toe hy skielik deur ‘n onbekende aanvaller geskiet is:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie doen ‘n beroep op China om omvattende inligting te verskaf oor ‘n longontsteking-uitbreking wat kinders in die noorde van die land raak. Dit volg te midde van ‘n toename in griepverwante siektes. Die WGO het omvattende epidemiologiese en kliniese data aangevra, asook laboratorium-uitslae wat verband hou met die groepe longontsteking onder kinders deur die Internasionale Gesondheidsregulasie-meganisme. Die organisasie versoek verder insigte oor onlangse neigings in die sirkulasie van bekende patogene, insluitend griep en mikoplasma pneumoniae.
# Rugby: Die Stormers en Cardiff skop vanaand die naweek se aksie in die Verenigde Rugbykampioenskap in die Walliese hoofstad af. Terselfdertyd verwelkom Edinburgh die Italiaanse span, Benetton, in die Skotse hoofstad. Die Leeus is môre in Johannesburg die gashere vir Zebre van Italië en daarna gaan die Bulle en die Ierse span, Connacht, sake uitspook op Loftus. Die Haaie speel in Durban teen die Walliese span, Dragons, Leinster en Munster meet kragte in Ierland en Glasgow Warriors verwelkom die Ierse span, Ulster, in Skotland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-472-dollar-81-sent. Die prys van goud is een-duisend-994-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte, die vyfde Fees vir Afrikaans vind van vandag tot Sondag in die De Regentes-teater in Den Haag in Nederland, plaas. Die fees bied vanjaar vir die eerste keer ’n konsert aan wat aan Suid-Afrikaanse klassieke en kunsmusiek gewy word. Die hoofwerk op die program is die Concerto, Vir die wat nie kan slaap nie, maar nog steeds droom om te dans, deur die komponiste Dizu Plaatjies en Matthijs van Dijk. Die werk word uitgevoer deur die Fees-strykorkes van die Suid-Afrikaanse Stigting vir Strykers met Matthijs van Dijk as dirigent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….