Sportnuus
BULLETIN SPORTNUUS 18 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-vrouekaptein, Laura Wolvaardt, sê die eendagreeks teen Sri Lanka het positiewe uitslae opgelewer. Die hoogste telling deur ‘n Suid-Afrikaanse vrou in ‘n eendagkragmeting was nie genoeg vir ‘n oorwinning in die derde en laaste wedstryd in Potchefstroom nie, en Sri Lanka het met ses paaltjies gewen. Wolvaardt se onoorwonne 184 het haar span tot 301 vir 5 geneem, maar die besoekers se kaptein, Chamari Athapaththu, het haar span die oorwinning besorg met ‘n onoorwonne 195. Wolvaardt sê sy is teleurgesteld die reeks het gelykop geëindig:
Nog krieket: Engeland se snelbouler, Jofra Archer, het erken hy sal sukkel om enige nuwe beserings te hanteer. Hy word deur ‘n magdom fiksheidsprobleme geteister sedert hy die internasionale kriekettoneel in 2019 betree het. Archer het in Mei verlede jaar laas mededingende krieket gespeel weens ʼn herhaalde stresfraktuur in sy regter-elmboog. Hy sê hy hoop om gereed te wees vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Junie in Amerika en sy vaderland, die Karibiese Eilande, plaasvind.
# Rugby: Die voormalige Walliese kaptein, Ken Owens, het sy uittrede aangekondig weens ‘n voortdurende rugbesering. Die veteraanhaker het 91 toetse vir Wallis gespeel, vyf kragmetings vir die Britse en Ierse Leeus en 274 wedstryde vir Scarlets. Hy is beseer tydens verlede seisoen se Uitdaagbeker-halfeindstryd teen Glasgow Warriors. Die 37-jarige Owens het in Julie ‘n operasie ondergaan en moes later aan Wallis se Wêreldbeker-groep onttrek. Hy sê dit is nie die manier waarop hy sy loopbaan wou eindig nie, maar dit was veel meer as waarvan hy ooit kon droom.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal, is bemoedig deur sy spel in die Barcelona Ope. Die 12-malige kampioen het in die tweede ronde 7-5, 6-1 teen die wêreld-nommer-elf van Australië, Alex de Minaur, verloor. Dit was die Spanjaard se eerste toernooi nadat hy weens ʼn besering drie maande buite aksie was. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Oostenryker Sebastian Ofner in die ronde van 32 met 6-4, 7-5 geklop. Nadal sê hy is tevrede dat hy nog kan meeding:
# En ten slotte: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, is aangewys op die tydskrif Time se lys van die wêreld se 100 invloedrykste mense vir 2024. Dit volg nadat hy Suid-Afrika verlede jaar in Frankryk die tweede aftereenvolgende keer na Wêreldbekerglorie gelei het. Kolisi se naam verskyn onder die “vernuwers”. Die tydskrif beskryf hulle as mense wat hy glo die grootste veranderings meegebring het aan die stories van die afgelope jaar. Ander mense op die lys sluit in die kunstenaars Kylie Minogue en Michael J Fox, en die sportsterre Max Verstappen en Jenni Hermoso.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….