Sportnuus 12:30
NUUSFLITS SPORTNUUS 10 November 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Gholf is vandag eerste aan die beurt: Die Amerikaner Max Homa maak tans sy debuut by die Nedbank-gholfuitdaagtoernooi en het goed begin deur gesamentlik voor te loop in die eerste ronde. Die wêreld se nommer agt het met ‘n ses onder-baansyfer 66 geopen, en deel ‘n voorsprong van een hou met Nicolai Højgaard, Dan Bradbury en Vincent Norrman. Homa hoop om sy vorm dié naweek voort te sit:
Speel klankgreep: ENG Max Homa
# Vervolgens, rugby: Die eienaar van Racing 92, Jacky Lorenzetti, verwag die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, sal ‘n beduidende impak by die klub hê. Die dubbele Wêreldbeker-wenner is gister amptelik by die klub in Frankryk verwelkom. Kolisi het in 2021 by die Haaie aangesluit en verhuis nou na Parys. Die 32-jarige is een van die Franse span se groot name vir die 2023/2024-veldtog en sal ‘n sleutelrol speel in die Parysenaars se strewe na oorwinnings. Afrigter Stuart Lancaster sê hulle is verheug om Kolisi te verwelkom vir sy sport- en menslike eienskappe.
Frankryk se afrigter, Fabien Galthié, sê ondertussen die nederlaag teen die uiteindelike kampioen, Suid-Afrika, in die Wêreldbeker-kwarteindstryd sal vir altyd by die span spook. Die Springbokke het die gasheerland 29-28 geklop onderweg na die titel. Frankryk was voor die toernooi een van die gunstelinge, saam met Ierland wat as die wêreld nommer een begin het. Galthié het die media die eerste keer te woord gestaan sedert verlede maand se nederlaag. Volgens hom was dit ʼn bittere teleurstelling na vier jaar se harde werk waartydens hulle ʼn sukseskoers van 80-persent gehandhaaf het.
# Volgende aan die beurt is krieket: Nieu-Seeland het sy kanse verbeter om vir die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer toe hy Sri Lanka in Bengaluru met vyf paaltjies geklop het. Sri Lanka is tot 171 beperk nadat Kusal Perera 51 bygedra en Trent Boult drie paaltjies geneem het. Devon Conway en Rachin Ravindra het toe ‘n stewige grondslag gelê met ‘n aanvangsvennootskap van 86 lopies en die Swartpette het die teiken in hulle 24ste boulbeurt gehaal. Nieu-Seeland, Pakistan en Afganistan spook sake uit om in die voorlaaste ronde aan te sluit by Suid-Afrika, Indië en Australië.
# Ons sluit af met sokker: Die Colombiaanse sokkerfederasie het bevestig die pa van Liverpool se voorspeler, Luis Diaz, is deur ontvoerders vrygelaat en is veilig. Luís Manuel Diaz is op die 28ste van verlede maand deur die linkse guerrillas ontvoer in die gesin se tuisdorp, Barrancas. Diaz se ma is ook ontvoer, maar sy is binne ure gered nadat die polisie padblokkades opgestel het. Die federasie sê die pa is deur lede van die Nasionale Bevrydingsleër aan amptenare van die Verenigde Nasies en die Katolieke Kerk oorhandig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….