Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, gholf: Chiara Tamburlini van Switserland het die Johannesburgse Vroue Ope met sewe houe gewen op die Modderfonteinse Gholfklub. Dit is die grootste oorwinning in die toernooi se tien jaar lange bestaan. Dit is Tamburlini se eerste Vroue Europese toertitel. Aunchisa Utama van Thailand was in die tweede plek op tien onder na ‘n finale ronde van 71, terwyl Nicole Garcia as die voorste Suid-Afrikaner vyfde geëindig het op agt onder baansyfer ná ‘n finale ronde van 70. Tamburlini sê haar eerste oorwinning is spesiaal:
# Motorsport: Die hoof van Mercedes se Formule Een-span, Toto Wolff, sê hulle gaan opgraderings doen aan hul motor vir die Miami Grand Prix. Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton, wat sy swakste begin vir ‘n F1-seisoen beleef, het negende geëindig in die Chinese Grand Prix, met sy spanmaat George Russell in die sesde plek. Wolff sê groot veranderings is nodig aan die motor wat spoed en versnelling betref:
# Tennis: Die derde gekeurde Noorweegse speler, Casper Ruud, het die Barcelona Ope gewen – sy elfde en grootste loopbaantitel. Die 25-jarige het die vyfde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland in die eindstryd 7-5, 6-3 geklop. Die oorwinning het ook die Noorweër se nederlaag teen Tsitsipas in verlede week se eindstryd van die Monte Carlo Ope gewreek. Ruud sê hy is bly om sy eerste titel van die jaar te verower:
# Sokker: Manchester United het ‘n begeesterde terugvegpoging deur Coventry City oorleef deur met strafdoele te wen en nog ʼn FA-beker-eindstryd te haal. Die Reds was in die 70ste minuut drie-nul voor, maar Coventry het teruggeveg en bykomende tyd moes gespeel word. United het uiteindelik geseëvier ná ʼn strafdoelstryd en vier-twee gewen. Dit beteken hulle kom weer teen Manchester City te staan in ʼn herhaling van verlede jaar se eindstryd. United se bestuurder, Erik ten Hag, sê dis nie ʼn verleentheid om amper teen ʼn Kampioenskap-span te verloor nie:
# En krieket: Die Kolkata Knight Riders is nou tweede op die Indiese Premierliga se punteleer ná hul sege van een lopie teen die Royal Challengers Bengaluru. Kolkata het 222 vir ses behaal met kaptein Shreyas Iyer wat ʼn vyftigtal bygedra het. RCB is daarna vir 221 uitgeboul in hulle sewende nederlaag uit agt wedstryde. Intussen het Sai Kishore in Mullanpur vier paaltjies platgetrek om die Gujarat Titans tot ʼn oorwinning van drie paaltjies oor die Punjab Kings te lei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….