Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens motorsport: Die 20-jarige Kimi Antonelli het in sy tweede seisoen sy eerste bestuurderskampioenskap opgeraap en die jongste Formule Een-kampioen ooit geword. Die Mercedes-renjaer het derde klaargemaak in Mexiko-stad om die titel te buit met vier wedrenne in die seisoen oor. Die Nederlander Max Verstappen van Red Bull was eerste en die Brit Lewis Hamilton van Ferrari tweede. Antonelli, wat die eerste Italiaanse wêreldkampioen is sedert Alberto Ascari in 1953, sê hierdie is net die begin:
# Rugby: Die Springbok-vroue het teruggesak na tiende plek op die wêreldranglys ná hul tweede opeenvolgende toetsnederlaag teen Ierland in die W-15-wêreldreeks. Ierland het Saterdag in Kaapstad 38-17 gewen ná hul oorwinning van 40-27 die vorige naweek. Suid-Afrika sou tot agtste gevorder het indien hulle Ierland die eerste keer ooit kon klop. Die span se medehoofafrigter, Franzel September, sê hulle het vanjaar goeie vordering gemaak, en die volgende fase van hul ontwikkeling sal wees om spanne soos Ierland te verslaan.
Nog rugby: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, waarsku sy spelers teen swak dissipline en sê hulle erken die noodsaaklikheid om tydens die Nasies-kampioenskap 15 spelers op die veld te hou. Engeland het in hul agt toetse tot dusver vanjaar 15 geelkaarte en een rooikaart gekry – die laaste vier in Julie teen Argentinië. Borthwick sê sy spelers sal hul standaarde in die losgemaal en verdediging moet verhoog as hulle hierdie maand in die Nasies-kampioenskap suksesvol wil meeding met Australië, Japan en Nieu-Seeland.
Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, erken veranderinge is nodig is nadat hulle die toetsreeks teen Suid-Afrika 2-1 verloor en hul voorste plek op die ranglys afgestaan het. Australië het op die laaste dag van die beslissende toets in Kaapstad ‘n wenteiken van 288 gejaag, maar is uitgeboul vir net 111 – hul derde nederlaag in hul laaste vyf toetse. Cummins erken besprekings oor spankeuses is onvermydelik voor volgende maand se reeks teen Nieu-Seeland:
# En laastens, tennis: Die 29-jarige Alexander Zverev het die Italiner Jannik Sinner amptelik vervang boaan die jongste ATP-wêreldranglys. Hy is die eerste Duitse nommer een sedert Boris Becker in 1991 nadat hy vanjaar sy eerste twee Grand Slam-titels ingepalm het. Zverev is ook die 30ste mansspeler in die posisie. Die Spanjaard Rafael Jodar het intussen opgeskuif tot tiende plek en die eerste speler seder die instelling van die ranglys in 1973 geword om die top-tien te haal in sy eerste volle seisoen op toer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….