Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-snelbouler Marco Jansen het sy 100ste toetspaaltjie gevier deur die wêreld se beste bouler en veelsydige speler in die formaat te word. Hy het dit vermag in Australië se eerste beurt tydens die derde toets in Kaapstad. Die 26-jarige Jansen het in Desember 2021 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak en speel tans in sy 23ste toets. Hy het reeds 770 lopies aangeteken. Die Proteas se boul-afrigter, Piet Botha, sê Jansen is ‘n baie harde werker wat nie bang is om by ander te leer nie.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus is opgewonde oor die vooruitsig om teen Italië, Frankryk en Ierland tydens volgende maand se Nasieskampioenskap-toer te speel. Hy sê elkeen van die spanne hou verskillende bedreigings in en sal Suid-Afrika op uiteenlopende maniere ‘n uitdaging bied en aangesien hierdie wedstryde nou deel van ‘n kompetisie vorm, sal hierdie wedstryde verdere aansporing bied. Suid-Afrika het al drie toetse in die kampioenskap se eerste fase gewen, maar Erasmus waarsku dit is ‘n intense kompetisie en dit sal noodsaaklik wees om dadelik op volspoed te speel.
Nog rugby, die Springbok-haker Bongi Mbonambi sal onmiddellik vir die Stormers uitdraf nadat hy op die bank gekies is vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Ierse span Ulster in Kaapstad. Hy is die Stormers se jongste aanwins nadat hy die Haaie verlaat het. Vernon Paulo sal die nommer-twee-trui dra. Daar is elf veranderings aan die span wat Scarlets verlede naweek geklop het. Kaptein Ruhan Nel keer terug van ‘n besering. Yaqeen Ahmed, wat volgende maand sy Springbok-buiging kan maak, en Cobus Reinach is die skakelpaar.
# Motorsport: Die 36-jarige Sergio Perez het ‘n nuwe kontrak met Cadillac onderteken en sal tot minstens 2029 deel bly van die Amerikaanse Formule Een-span. Sy kontrak sou blykbaar einde volgende jaar verstryk. Perez sê hy en Cadillac, wat vanjaar die eerste keer deelneem, sê hulle het saam ongelooflike vordering gemaak. Hy is ook gereed vir sy 300ste Grand Prix wanneer hy Sondag in Mexikostad voor sy tuisskare wegspring.
# En Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee sê alles is gereed vir die geskiedkundige Jeugspele in Dakar, Senegal. Twee-duisend-655 van die wêreld se beste jong atlete tussen 14 en 17-jaar gaan na verwagting deelneem aan die eerste Olimpiese byeenkoms in Afrika. Dit duur van Saterdag tot 13 November. Daar is 25 sportkodes en 153 medalje-items. Die IOK se president, Kirsty Coventry, verwag die Spele gaan ‘n groot sukses wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….