Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, is trots op hoe die span saamgestaan het om die reën-ontwrigte tweede toets teen Australië in Gqeberha te wen. Suid-Afrika het met ‘n beurt en 31 lopies geseëvier en die reeks sal nou volgende week in Kaapstad beslis word. Bavuma het uitgeblink met ‘n loopbaanbeste 179, terwyl die snelboulers Kagiso Rabada en Marco Jansen saam 12 paaltjies geneem het. Bavuma sê indrukwekkende individuele vertonings maak sy taak baie makliker:
# Rugby: Die Italiaanse skeidsregter Andrea Piardi is volgende maand weer in beheer van ‘n Springbok-toets na verlede maand se omstrede wedstryd teen die Wallabies in Perth, toe hy in die laaste tien minute vier geelkaarte aan Australië uitgedeel het. Hy hanteer die 13de die Bokke se Nasieskampioenskapstoets teen Frankryk in Parys. Suid-Afrika speel die vorige week in Turyn teen Italië, en die 21ste in Durblin teen Ierland. Die Skotse vroue-skeidsregter Hollie Davidson hanteer dieselfde dag die wedstryd tussen Frankryk en Argentinië.
Ons bly by rugby: Die Bulle gaan ‘n paar weke sonder die Springbok-skrumskakel, Embrose Papier, moet klaarkom nadat hy geopereer is. Die 29-jarige speler het verlede Saterdag ʼn enkelbesering opgedoen in die Bulle se Kampioene-beker-oorwinning van 56-20 oor Stade Français. Paul de Wet en Zak Burger is die ander skrumskakels beskikbaar vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met Ulster op Loftus. De Wet dra die nommer-nege-trui as Handré Pollard se skakelmaat. Afrigter Johan Ackermann behou sy begin-agterlyn onveranderd, ondanks groot veranderinge aan die voorspelers.
# Sokker: Amerika gaan in Januarie 2028 die gasvrou wees vir die eerste Klub-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Neëntien spanne gaan deelneem en sewe klubs het reeds gekwalifiseer deur die afgelope twee seisoene kontinentale toernooie te wen. Die lys sluit in die Engelse Vroue-superliga-span Arsenal, die huidige Europese kampioen, Barcelona van Spanje, en Corinthians van Brasilië. FIFA se hoof van vrouesokker, Sarai Bareman, sê Amerika se onlangse uitstekende aanbieding van top-FIFA-toernooie, tesame met die groot belangstelling in vrouesokker en die land se uitstekende sportinfrastruktuur, maak dit die vanselfsprekende keuse.
# En motorsport: Mercedes-renjaer Kimi Antonelli sê ʼn droom sal waar word as hy sy eerste Formule Een-titel die naweek op die Amerikaanse Grand Prix kan opraap. Die Italianer loop in die bestuurderskampioenskap voor met 102 punte, die hoogste van die seisoen. Om Sondag die wêreldkampioen te word, sal Antonelli die wedren moet wen en hoop sy spanmaat, George Russell, eindig nie hoër as negende nie, en Lewis Hamilton van Ferrari eindig vyfde of laer. Antonelli sê hy wil dit net geniet:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….