Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika speel Saterdag teen Nieu-Seeland in die eindstryd van die driehoekige T20-reeks nadat hy die gasheer, Zimbabwe, met sewe paaltjies getroef het in Harare. Brian Bennett het 61 lopies aangeteken en Zimbabwe is beperk tot 144 vir ses terwyl Corbin Bosch twee paaltjies geneem het. Rubin Hermann se 63 en kaptein Rassie van der Dussen se onoorwonne 52 het toe die Proteas laat wen met 16 balle oor.
Die Internasionale Krieketraad het intussen bevestig dat Engeland die gasheer sal wees van die volgende drie eindstryde van die Wêreldtoetskampioenskap in 2027, ’29 en ’31. Die eerste drie eindstryde het almal in Engeland plaasgevind, die jongste verlede maand toe Suid-Afrika Australië op Lords geklop het om as kampioen gekroon te word. Die uitvoerende hoof van die Engelse en Walliese Krieketraad, Richard Gould, sê dis ‘n bewys van die passie wat aanhangers vir die geliefde formaat van die spel het.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, het die 153ste Ope-kampioenskap op Royal Portrush in Noord-Ierland gewen en daarmee sy vierde major-titel opgeraap. Die Amerikaner het met vier houe geseëvier ná ‘n finale ronde van 68 om op 17 onder baansyfer te eindig. Sy landgenoot, Harris English, was tweede op 13 onder en Chris Gotterup derde. Rory McIlroy wat graag ʼn geskiedkundige oorwinning op sy tuisgrond wou behaal, deel die sewende plek. Scheffler sê hy het die hele toernooi goed gespeel:
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het met sy sege in die Tsjeggiese Grand Prix die eerste Ducati-renjaer geword wat vyf agtereenvolgende hoofwedrenne wen. Marco Bezzecchi van Aprilia Racing was tweede en Pedro Acosta van Red Bull KTM Factory Racing derde. Marquez het sy kampioenskapsvoorsprong bo sy teenstander, sy jonger broer, Alex, tot 120 punte vergroot nadat Alex in die tweede ronde uitgeval het. Die Suid-Afrikaner Brad Binder het negende klaargemaak. Marquez sê hy voel goed oor hierdie seisoen:
# En tennis: Kanada het die gasheerland, Italië, in Bari 2-1 verslaan om die Hopman-beker die eerste keer ooit te wen. Bianca Andreescu het Kanada ʼn voorsprong gegee toe sy Lucia Bronzetti geklop het. Die gashere het teruggeveg en Flavio Cobolli wat Wimbledon se kwarteindronde gehaal het, het Félix Auger-Aliassime in drie stelle verslaan. In die dubbelspel het Andreescu en Auger-Aliassime egter die oorwinning oor Bronzetti en Cobolli beklink.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….