Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 April 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop vandag af met rugby: Die Blitsbokke is deur na die kwarteindronde in Hongkong nadat hulle vandag hul eerste twee wedstryde in Groep C gewen het. Hulle het eers ‘n sege van 22-17 oor Ierland behaal. Shilton van Wyk, Dewald Human, Quewin Nortjé en Ryan Oosthuizen het drieë gedruk om die Blitsbokke hulle eerste oorwinning oor Ierland in dié seisoen se Wêreldreeks te besorg. Suid-Afrika het Spanje daarna 24-10 verslaan. Die Blitsbokke, wat in die sewende plek op die punteleer is, kom môreoggend in hul laaste groepswedstryd teen Samoa te staan.
Ons bly by rugby: Dis die naweek nou of nooit vir die vyf Suid-Afrikaanse spanne in die ronde van 16 in Europese kompetisies. Die Bulle en die Stormers speel in die Kampioenebeker, en die Haaie, die Leeus en die Cheetahs in die Uitdaagbeker. Die Bulle speel môre op Loftus teen Lyon en die Stormers verwelkom La Rochelle in Kaapstad. Die Haaie speel tuis in Durban teen Zebre Parma. Die Leeus kom in Italië te staan teen Benetton en die Cheetahs pak Clermont in Frankryk.
# Vervolgens, tennis: Die elfmalige kampioen, Rafael Nadal, het hom aan die Monte Carlo Meesters onttrek weens ‘n voortdurende besering. Die 37-jarige Spanjaard het in Januarie tydens die Brisbane Meesters uiteindelik weer na die baan teruggekeer nadat hy bykans ‘n jaar op die krukkelys was. Hy het toe sy heup beseer, wat hom uit die Australiese Ope gehou het. Hy het sedertdien nie weer in ‘n toernooi gespeel nie. Nadal sê sy liggaam is nie gereed vir die baan nie en al wat hy kan doen, is om dit te aanvaar.
Nog ‘n potjie tennis: Saoedi-Arabië sal die volgende drie jaar die beroepsvroue se jaareind-toernooi aanbied. Die wêreld se voorste agt enkelspelspelers en dubbelspel-spanne neem deel aan die WTA-eindtoernooi, wat vanjaar van 2 tot 9 November in die hoofstad Riaad aangebied word. Die prysgeld is met 70-persent opgestoot na 284-miljoen-rand. Die voorsitter van die WTA, Steve Simon, sê hulle vennootskap met die koninkryk kan bou aan die spel se blootstelling aan ‘n mark en ‘n streek met ‘n vinnig-groeiende uitwerking op die sportbedryf.
# En ons sluit af met motorsport: Die uitvoerende hoof van Mercedes se Formule Een-span sê Sebastian Vettel kan nooit buite rekening gelaat word nie. Toto Wolff het gereageer op gerugte dat die Duitser die Brit Lewis Hamilton kan vervang wanneer hy die einde van die seisoen na Ferrari verskuif. Vettel het vier agtereenvolgende kampioenskappe vir Red Bull gewen, en ook vir Ferrari en Aston Martin gejaag voor hy in 2022 uitgetree het. Wolff en Vettel het vroeër die week samesprekings gevoer. Wolff benadruk sy span het nog nie Hamilton se opvolger gekies nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….