Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens rugby: Die Verengide Rugbykampioenskap-aksie hervat hierdie naweek ná die eerste ronde van die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker. Die Stormers, die Haaie en die Bulle het hul wedstryde gewen, terwyl die Leeus en die Cheetahs verloor het. Die Haaie pak Vrydag vir Cardiff in Wallis in ‘n VRK-kragmeting, en die Leeus speel teen Edinburgh in Skotland. Die Bulle verwelkom Saterdag die Ierse span Ulster op Loftus, terwyl die Stormers teen die Scarlets van Wallis in Kaapstad te staan kom. Die Cheetahs speel in die VRK nie.
# Gholf: Die Sonskyn-toer het ‘n sterk begin vir 2027 aangekondig, met vier toernooie wat in samewerking met die HotelPlanner-toer goedgekeur is en op Suid-Afrikaanse bane afskop. Die program begin met die SDC Ope, gevolg deur die Durbanse Ope in Januarie. In Februarie vind die Kaapstadse Ope en die DATA Pro-Am Ope plaas. Die Sonskyntoer se kommissaris, Thomas Abt, sê baie Suid-Afrikaanse beroepspelers het die geleentheid gebruik wat die HotelPlanner-toernooie bied om tot by die DP World-toer en verder te vorder.
# Sokker: Die Portugese Sokkerfederasie het Cristiano Ronaldo vir 30 dae geskors en met vier-duisend-700-rand beboet omdat hy verlede maand die nasionale span verlaat het tydens die UEFA-nasiesliga-veldtog. Die 41-jarige speler het die groep verlaat voor Portugal se kragmeting met Denemarke op 30 September, na ʼn geskil met hoofafrigter Jorge Jesus, oor beskuldigings van gebreekte beloftes oor sy speeltyd. Ronaldo se skorsing begin op die dag van die wedstryd teen Denemarke, wat beteken hy sal volgende maand beskikbaar wees vir Portugal se Nasiesliga-wedstryde teen Denemarke en Wallis.
Nog sokkernuus, Sarina Wiegman sal vir nog drie jaar by Engeland se vrouespan aanbly, nadat sy haar kontrak tot die einde van die Europese Kampioenskap in 2029 verleng het. Die 56-jarige Nederlander het in 2021 oorgeneem en die span die volgende jaar na sy eerste groot trofee in dié kampioenskap gelei. Engeland het verlede jaar die titel behou. Hulle het ook in 2023 die eindstryd van die Wêreldbeker in Australië en Nieu-Seeland gehaal, waar hulle teen Spanje verloor het. Engeland speel volgende maand teen Oekraïne in die kwalifiserende wedstryde vir volgende jaar se Wêreldbeker.
# En tennis: Die Grand Slam-kampioene Juan Martin del Potro, Ashleigh Barty en Svetlana Kuznetsova is op die Internasionale Tennis-heldesaal se lys kandidate vir die Klas van 2027. Del Potro het in sy uitnemende loopbaan 22 toersege-titels gewen, insluitend sy Amerikaanse Ope-triomf in 2009. Barty, ʼn voormalige wêreld-nommer-een, spog met vier Grand Slam-titels: drie in enkelspel en een in dubbelspel. Kuznetsova is die tweede keer op die lys. Die Rus het tydens haar loopbaan van 15 jaar 18 WTA-toertitels opgeraap, insluitend twee Grand Slam-enkelspeltitels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….