Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, krieket: Die T20-reeks tussen die Protea-vroue en Sri Lanka word vanaand op Buffalo-park in Oos-Londen beslis. Die Proteas het die openingswedstryd in Benoni met 79 lopies gewen, waarna die besoekers die reeks gelykop gemaak het met ‘n indrukwekkende oorwinning met sewe paaltjies in Potchefstroom. Die snelbouler Tumi Sekhukhune sê die Proteas moet hulle tuisreeks wen:
# Rugby: Die spelskepper van die Springbok Sewes, Dewald Human, is na ‘n besering terug vir hierdie naweek se toernooi in Hongkong. Die Blitsbokke kom in Groep C te staan teen Ierland, Spanje en Samoa. Suid-Afrika bevind hom tans in die sewende plek op die punteleer voor die toernooie in Hongkong en Singapoer, en slegs die boonste agt spanne kwalifiseer vir die laaste toernooi in Madrid. Human sê hy is slaggereed om te help om ‘n verskil te maak:
Nog nuus oor die sport is dat die mees ervare All Black van alle tye, Sam Whitelock, in Junie aan die einde van die Franse klubseisoen uittree. Die veteraan van 153 toetse het na verlede jaar se Wêreldbekertoernooi by die Franse Top 14-klub, Pau, aangesluit, nadat sy land in die eindstryd teen Suid-Afrika verloor het. Die 35-jarige slot het Drienasies- en Rugbykampioenskapstitels met Nieu-Seeland gewen en die Crusaders in 180 Super-wedstryde verteenwoordig en sewe titels gewen. Die All Blacks beskryf Whitelock as ‘n legende van die spel.
# Motorsport: Mercedes sê daar is geen groot kommer oor die motor se betroubaarheid nie. Lewis Hamilton en George Russell se onvermoë om in Australië klaar te maak, het die Formule Een-span vierde gelaat op die vervaardigers-punteleer en 72 punte agter Red Bull, met Ferrari slegs vier punte agter die voorloper. Mercedes se tegniese direkteur, James Allison, sê al die fokus is daarop om meer werkverrigting uit die motor te kry:
# En, swem: Die driemalige Olimpiese kampioen, Adam Peaty, het sy plek op die Olimpiese Spele in Parys verseker toe hy die 100 meter-borsslag gewen het op die Britse kampioenskap in Londen. Die 29-jarige se wentyd was 57,94 sekondes, wat sy vinnigste tyd is sedert hy sy Olimpiese titel in 2021 in Tokio verdedig het. Peaty, wat ‘n terugkeer maak nadat hy tyd geneem het om na sy geestesgesondheid om te sien, sê, in plaas van woede en frustrasie, vind hy nou vrede in die water:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….