Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Junior Springbok-ster Luan Giliomee begin môre sy Bulle-loopbaan in die nommer 15-trui in die Kampioenebeker-wedstryd teen Stade Francais op Loftus. Hy vervang die Bok-veteraan Willie le Roux, wat na die bank skuif. Die 20-jarige Giliomee het onlangs na Pretoria verhuis nadat hy sy termyn by die Haaie voltooi het. Hy vorm die agterste driehoek saam met die vleuels Cheswill Jooste en Sebastian de Klerk. Hoofafrigter Johan Ackermann het tien veranderings aangebring aan die groep wat die Leeus verlede naweek in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop het.
Ackermann glo intussen hulle het die krag en diepte om tot minstens die halfeindronde te vorder as die spelers fiks bly. Hy sê dis ononderhandelbaar om tuiswedstryde te wen, maar die Franse is moeilike teenstanders:
# Krieket: Die uitvoerende hoof van KwaZulu-Natal se Krieket-unie, Heinrich Strydom, sê hulle gaan ‘n deeglike interne ondersoek doen na die lae bywoningsyfer van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië op Kingsmead in Durban. Net minder as 20-duisend toeskouers het die toets oor vyf dae bygewoon, wat die Proteas se eerste tuis-toets sedert Januarie verlede jaar was. Australië het met 214 lopies geseëvier. Strydom sê hulle moet na ondersteuners luister, weer met gemeenskappe in verbinding kom en maniere vind om toetskrieket toegankliker, interessanter en aantrekliker te maak.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, sal aan die Weense Ope deelneem nadat Saoedi-Arabië se “Six Kings Slam” weens terreuraanvalle tot Desember uitgestel is. Die organiseerders sê hulle het dadelik met die Spanjaard se bestuur in aanraking gekom toe aanduidings van die uitstel na vore gekom het. Hulle beskryf Alcaraz se deelname as ‘n groot eer. Die Rus Daniil Medvedev, die Italianer Flavio Cobolli en die Amerikaner Frances Tiafoe is die ander spelers uit die wêreld se top-tien wat reeds aangekondig is vir die toernooi, wat die 26ste begin.
En laastens, nog tennisnuus: Die Serwiër Stefan Milicevic is vir 24-jaar geskors omdat hy tussen 2022 en 2024 ses wedstryde gemanipuleer en probeer het om nog ses te manipuleer. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap sê die 29-jarige is ook aangekla dat hy talle beroepspelers gewerf of probeer werf het om deel te word van ʼn korrupte netwerk. Dit het daartoe gelei dat ander spelers ook wedstryde gemanipuleer het. Milicevic, wie se beste posisie op die ATP-ranglys een-duisend-338ste was, is met meer as ‘n miljoen-rand beboet en mag eers in 2050 weer mededingend speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….