Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Veertien Springbokke kan die Bulle in die komende naweek se openingswedstryd van die Kampioenebeker teen die Franse span Stade Français op Loftus verteenwoordig. Die Pretoriase span het in die vorige vier seisoene nie beïndruk nie en het nie eens die uitspeelwedstryde van die 2024/25-seisoen gehaal nie. Die Bulle is egter vol vertroue ná Saterdag se oortuigende oorwinning van 57-15 oor die Leeus in ‘n tuiswedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap. Handré Pollard, Curwin Bosch en die nuweling Luan Giliomee hoop almal op die nommer 10-trui.
Nog rugbynuus: Die Engelse klub, Saracens, het die akademiespeler, Totoa Auvaa, met onmiddellike ingang vrygestel ná die naweek se voorval in St Albans. Die klub sê die 21-jarige Samoaanse voorspeler het nie volgens die standaard vir hul spelers opgetree nie. Auvaa was in Junie betrokke by ʼn onderonsie in ʼn nagklub waarby Engeland se krieketspelers, Ben Stokes en Gus Atkinson, ook betrokke was. ʼn Lid van die veiligheidspan is beseer. Stokes en Atkinson is later vrygespreek van gewelddadige gedrag, maar is gewaarsku omdat hulle spanreëls verbreek het.
# Sokker: Cristiano Ronaldo het ‘n doel aangeteken in sy Saoedi-Arabiese klub Al-Nassr se oorwinning van 3-1 oor Neftchi Fergana van Oesbekistan in die Asiatiese Kampioeneliga. ‘n Sekerheids-waarskuwing het die afskop met ‘n uur vertraag. ‘n Waarskuwing is kort voor die wedstryd in Riaad uitgereik ná berigte van ontploffings. Die Saoedies-geleide militêre koalisie het vroeër ballistiese missiele vernietig wat die Houthi-rebelle van Jemen na die hoofstad afgevuur het. Ronaldo het Al-Nassr se tweede doel aangeteken en Neftchi het ‘n doel behaal, maar ‘n eie doel het die oorwinning beklink.
# Tennis: Carlos Alcaraz is uit die Sjanghaise Meesterstoernooi geskakel toe hy in skoon stelle teen die Belg, Zizou Bergs, verloor het. Die ongekeurde Bergs se oorwinning oor die tweede-gekeurde Spanjaard is die grootste van sy loopbaan. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het teruggeveg en die Amerikaner Taylor Fritz geklop. Hy speel in die vierde ronde teen die Rus Daniil Medvedev, wat die kwalifiseerder Dalibor Svrcina in skoon stelle afgeransel het. Felix Auger-Aliassime, Casper Ruud en Rafael Jodar is ook deur na die laaste 16.
# En motorsport: Die jong Mercedes-renjaer Kimi Antonelli kan moontlik die Formule Een-bestuurderskampioenskap beklink op dié maand se Amerikaanse Grand Prix. Die 20-jarige Italianer loop tans 102 punte voor sy Britse spanmaat, George Russell, nadat hy Sondag in Singapoer die derde plek op die podium behaal het. Daar is nog ses wedrenne in die huidige seisoen oor. Antonelli sal die titel in Texas verseker indien hy sy voorsprong met 23 punte vergroot en Russell en Ferrari se Britse renjaer, Lewis Hamilton, nie genoeg punte aanteken nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….