Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-haker Bongi Mbonambi se loopbaan by die Haaie kan dalk kortgeknip word terwyl hy wag op ‘n uitspraak oor beweerde wangedrag. Die 35-jarige se maande lange tugverhoor spruit uit ‘n beweerde oortreding van spanreëls tydens ‘n spanbou-geleentheid voor die seisoen. Volgens Rapport het Mbonambi, Eduan Swart en Trevor Nyakane na bewering protokolle vir sosiale verkeer oortree wat deur die afrigter, JP Pietersen, neergelê is. Die Haaie het Mbonambi vanjaar nog nie vir ‘n wedstryd gekies nie weens die voortgesette tugproses.
# Krieket: Suid-Afrika se voormalige hoofafrigter, Eric Simons, gaan volgens berigte aangestel word as boulafrigter in die Engelse toetsafrigter, Stephen Fleming, se ondersteuningspan. Fleming is besig om sy span bymekaar te kry vir die reeks teen die Proteas in Desember. Simons was tussen 2002 en 2004 in beheer van Suid-Afrika en was ook ‘n ruk lank Indië se boulafrigter. Hy het ook saam met Fleming by die Joburg Super Kings in die SA20 gewerk. Simons was ‘n raadgewer vir die Proteas se witbalspanne toe Rob Walter in beheer was.
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull het die Singapoerse Formule Een Grand Prix die eerste keer in sy loopbaan gewen. Die Nederlander het ‘n vroeë uitdaging van Charles Leclerc van Ferrari afgeweer vir sy 73ste loopbaanoorwinning in sy 250ste wedren. Leclerc was tweede en Kimi Antonelli van Mercedes derde, gevolg deur die McLaren-renjaers Lando Norris en Oscar Piastri. Antonelli het sy voorsprong oo sy spanmaat George Russell in die bestuurders-kampioenskap tot 102 punte vergroot. Russell was negende nadat hy in die 19de plek weggespring het.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, is terug onder die wêreld-top-10 nadat hy die Chinese Ope gewen het. Die Serwiër het verlede maand uitgeval, maar keer terug nadat hy die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev van Duitsland, geklop het onderweg na die titel in Beijing. Die Australiër Alex de Minaur, wat in die eindstryd verloor het, is nou negende. Die Italianer Jannik Sinner bly nommer een, die Spanjaard Carlos Alcaraz is derde, gevolg deur die Amerikaner Ben Shelton, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, die Rus Daniil Medvedev en Flavio Cobolli van Italië.
En Zheng Qinwen het weens uitputting en ‘n skouerbesering onttrek aan die Wumhan-ope na haar geskiedkundige oorwinning op die Chinese Ope. Sy het die Rus Mirra Andreeva in die eindstryd geklop en sodoende die eerste Chinese speler geword wat die titel in Beijing verower. Die voormalige wêreld-nommer-vier het verlede jaar ‘n elmboog-operasie ondergaan wat haar byna agt maande op die kantlyn gehou het. Zheng sê sy het sedert haar terugkeer ‘n veeleisende reeks wedstryde gespeel wat haar heeltemal uitgeput het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….