Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika is tweede op die Moto GP-punteleer nadat hy vierde geëindig het in gister se Grand Prix in Portugal. Dit het gevolg op sy tweede plek vir Red Bull KTM Factory Racing in die vorige wedren in Katar. Binder het gister klaargemaak na Prima Pamac Racing se Spaanse jaer, Jorge Martín, die Italianer Enea Bastianini van die Ducati Lenovo-span, en nog ‘n Spanjaard, Pedro Acosta van Tech 3 KTM Factory Racing. Martín is tans bo-aan die punteleer, met Bastianini derde.
Nog nuus oor die sport is dat Mercedes se Formule Een-hoof, Toto Wolff, erken die begin van die seisoen was baie moeilik vir die span. Albei jaers, Lewis Hamilton en George Russell, moes onttrek aan die Australiese Grand Prix, wat die Silver Arrows ná drie wedrenne vyfde op die vervaardigerspunteleer laat. Die sewemalige wêreldkampioen, Hamilton, het met enjinprobleme onttrek, terwyl Russell in die voorlaaste ronde ‘n ongeluk gemaak het. Wolff sê dit is duidelik dat die motor se werkverrigting tans nie op standaard is nie:
# Fietsry: Die Suid-Afrikaner Matt Beers en sy Amerikaanse spanmaat, Howard Grotts, het die 2024 Cape Epic gewen. Die twee fietsryers van die Toyota-Specialised NinetyOne-span het derde geëindig in die sewende skof wat die Grand Finale in Stellenbosch genoem word, en ruim binne die toegelate tyd vir ‘n algehele sege. Dit is Beers se derde titel en Grotts se tweede nadat hulle die Wêreld-fietsryhulpspan van Nino Schurter en Sebastian Fini in die algemene afdeling geklop het. Anne Terpstra van Nederland en Nicole Koller van Switserland het die vroue-afdeling gewen.
# Tennis: Die tweemalige finalis, Jannik Sinner, is deur na die laaste 16 van die Miami Ope. Die tweede gekeurde Italianer het Tallon Griekspoor van Nederland 5-7, 7-5, 6-1 geklop. Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray van Skotland, het in drie stelle verloor teen die 23-jarige Tsjeg, Tomas Machac. In die vroue-afdeling het die wêreld nommer een, Iga Swiatek van Pole, na die ronde van 16 deurgedring toe sy Linda Noskova van die Tsjeggiese Republiek verslaan het. Caroline (Carolien) Garcia van Frankryk het Naomi Osaka van Japan in skoon stelle geklop.
# En, rugby: Die verdedigende kampioen, Engeland, het Italië 48-nul verpletter in die eerste ronde van die 23ste Vroue-Sesnasiesreeks in Parma. Die Rooi Rose was vroeg in die eerste helfte onder druk toe Sarah Beckett se geel kaart vir ʼn gevaarlike losskrum-beweging tot ʼn rooi kaart opgradeer is ná ʼn hersiening. Engeland het uiteindelik agt drieë gedruk vir ʼn bonuspunt-oorwinning in hulle strewe na ʼn derde agtereenvolgende Grand Slam en ʼn sesde agtereenvolgende titel. Marlie Packer van Engeland sê hulle het goed gespeel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….