Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die heersende wêreldkampioen, Suid-Afrika, speel op 10 November teen Skotland op Murrayfield. Dit is deel van Skotland se internasionale herfstoetse, wanneer hulle ook teen Fidji, Portugal en Australië uitdraf. Die Springbokke en Skotland het in verlede jaar se groepsfase van die Wêreldbeker-toernooi laas teen mekaar gespeel toe die Bokke 18-3 gewen het. Skotland het vierde geëindig in die Sesnasies-kampioenskap. Die hoofafrigter Gregor Townsend, sê om die wêreldkampioen aan te durf is die grootste moontlike toets vir enige span en hulle sien uit na die wedstryd.
Nóg rugbynuus: Die Junior Springbok Speler van die Jaar, Corné Beets, sal die Wêreldbeker-kampioen-agsteman Jasper Wiese by Leicester Tigers vervang. Wiese het aangekondig hy verlaat die Engelse klub aan die einde van die seisoen, met ‘n skuif na die Franse span Stade Francais op die kaarte. Die 20-jarige Beets, wat by Paarl Gimnasium matriek geskryf het, het tydens verlede jaar se Onder-20 Wêreldkampioenskap die aandag getrek en ‘n drie gedruk in die uitspeelwedstryd om derde plek teen Engeland. Hy sluit aan by die Springbok-losskakel Handré Pollard wat ook vir Leicester speel.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen Simona Halep het in Miami teen Paula Badosa verloor in haar eerste wedstryd ná haar opkikker-skorsing. Die Roemeen het die eerste stel gewen, maar die Spanjaard het uiteindelik 1-6, 6-4, 6-3 geseëvier. Die 32-jarige Halep het die eerste keer in 18 maande gespeel nadat haar skorsing van vier jaar tot nege maande verminder is. In ander wedstryde het die Deen Caroline Wozniacki vir Clara Burel van Frankryk 6-1, 6-4 verslaan, terwyl Diana Shnaider van Rusland die Amerikaner Venus Williams 6-3, 6-3 afgeransel het.
Die drie-malige Grand Slam-kampioen, Andy Murray van Skotland, speel vandag in die eerste ronde in Miami teen die Italianer Matteo Berrettini. Berrettini het in Januarie 2022 sy hoogste wêreldranglysposisie van sesde bereik, maar ‘n reeks beserings het hom laat terugsak na 125ste. Murray, wat in 2016 nommer een was, is nou 61ste. Die gewilde Japanse speler Kei Nishikori keer terug na die toer na ‘n beseringsonderbreking van sewe maande, en pak Sebastian Ofner van Oostenryk in die ronde van 128.
# En, laastens: Die Internasionale Olimpiese Komitee sê Russiese en Belarussiese atlete sal nie toegelaat word om aan die openingseremonie van die Spele in Parys deel te neem nie. Atlete van albei lande is van spansport verbied ná Moskou se inval in Oekraïne met Belarus se hulp. Dit volg nadat die Internasionale Paralimpiese Komitee ook die lande se atlete verbied het om in Augustus aan sy openingseremonie deel te neem. Die IOK verwag dat 36 neutrale atlete met Russiese paspoorte en 22 met Belarussiese paspoorte vir die Spele sal kwalifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….