Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Joburg Super Kings het die veelsydige 18-jarige Suid-Afrikaner, Jason Rowles, vir 2,9-miljoen-rand gekoop, die hoogste bod op die veiling vir die SA20 se vyfde seisoen. JSK het ook die voormalige Protea-kaptein, Faf du Plessis, vir 2,7-miljoen-rand terug verwelkom, terwyl die Windies se ervare veelsydige speler, Kieron Pollard, vir 1,5-miljoen-rand by hom aansluit. Pretoria Capitals het die Protea-kaptein Temba Bavuma en Rassie van der Dussen vir onderskeidelik 200-duisend- en 500-duisend-rand bekom. MI Cape Town het die veelsydige Protea, Wiaan Mulder, vir 2,6-miljoen-rand nader gehark.
Nog krieket: Die Protea-draaibouler Simon Harmer sê die hegte eenheid binne die span sal baie voordelig wees in die toetsreeks teen Australië. Die 37-jarige, wat in November verlede jaar laas vir Suid-Afrika gespeel het, kan dalk saam met Keshav Maharaj as draaibouler ingespan word wanneer die eerste toets môre in Durban begin. Kus-kolfblaaie bied tradisioneel meer hulp aan draaiboulers. Harmer beskryf die span as ‘n hegte groep wat bereid is om saam te veg:
# Rugby: Die voormalige All Black-kaptein, Scott Barrett, keer die eerste keer sedert November 2025 terug na die beginspan vir Saterdag se Bledisloebeker-toets teen Australië in Auckland. Sy broer, Beauden, vervang die beseerde Richie Mo’unga. Codie Taylor voer die span aan, terwyl Shannon Frizell op die bank wag vir sy eerste toets sedert die Wêreldbeker-eindstryd van 2023. Afrigter Dave Rennie sê hulle het groot respek vir die Wallabies en die manier waarop hulle speel:
Wêreldrugby het intussen die heup- en knie-laagvat-tegnieke tot gevaarlike en onwettige duikslae verklaar. In ‘n heup-laagvat gebruik die spelers hul liggaamsgewig om ʼn speler grond toe te trek en sak van agter om die bal-draer se bene. Dit sal voortaan vuilspel wees en met ʼn strafskop gestraf word. Die knie-laagvat waar ʼn speler op een of albei knieë sak voor hy ʼn teenstander lak, is reeds ʼn oortreding en kan met ʼn strafskop gestraf word.
# En sokker: Die Spaanse voorspeler Pedro Rodrigues het op die ouderdom van 39 sy uittrede aangekondig ná ‘n loopbaan van 20 jaar en 25 groot trofees, insluitend die Wêreldbeker in 2010. Hy was 16 jaar gelede ‘n sleutellid van die land se span in Suid-Afrika en het in die eindstryd teen Nederland begin. Rodrigues het sy land ook gehelp om die Euro 2012-toernooi te wen. Volgens Reuters het hy sy droom uitgeleef en is trots op al die mense wat hom ondersteun het om dit te verwesenlik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….