Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ‘n sterk groep aangewys vir Saterdag se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires, met Siya Kolisi wat die span aanvoer. Hy het 13 veranderinge aangebring aan die beginspan wat Wallis geklop het, met Eben Etzebeth, Lood de Jager, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Morné van den Berg wat almal terug is na beserings. Sewe spelers wat teen Wallis uitgedraf het, behou hul plek in die groep van 23, met Aphelele Fassi en Cobus Reinach in die opdrafspan en die ander vyf op die bank.
Nog rugbynuus: Die Stormers word geïnspireer deur Westelike Provinsie se span van 1976 wanneer hulle Vrydag in Kaapstad teen die All Blacks speel in die eerste toerwedstryd. Dis 50 jaar nadat die tuisspan laas teen Nieu-Seeland gespeel, en 12-11 gewen het op Nuweland. Hulpafrigter Rito Hlungwani sê die huidige spelers het ‘n aanbieding gesien oor wat in 1976 gebeur het as motivering vir ‘n verwagte reuse-uitdaging op die Kaapstad-stadion. Die ervare Deon Fourie sê hulle besef watter voorreg dit is om weer teen die toerspan te staan te kom.
# Sokker: Banyana Banyana het deurgedring na die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi vir vroue toe hulle Burkina Faso in Casablanca 1-0 geklop het. Thembi Kgatlana het die wendoel in die 21ste minuut aangeteken. Suid-Afrika is nou tweede in Groep B ná Ivoorkus, wat Tanzanië 2-1 verslaan het. Desiree Ellis se span speel Saterdag in Rabat teen die gasvroue, Marokko. Kgatlana was speler van die wedstryd en sê sy is trots op hulle spel:
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Jayden Schaper, die opkomende ster Casey Jarvis en nog ‘n Suid-Afrikaner, Dean Burmester, het almal ingeskryf vir die tiende Mauritius-ope in Desember. Die gewese kampioen, Antoine Rozner van Frankryk, sal ook meeding om die prysgeld van 25-miljoen-rand. Schaper en Jarvis is albei op koers om volgende jaar hulle PGA-toerkaarte te ontvang en sal in Mauritius opdaag as die volgende geslag jong internasionale sterre.
# En krieket: Engeland se gewese kaptein, Ben Stokes, hoop om eendag as afrigter na die nasionale opset terug te keer. Die 35-jarige veelsydige speler het in Junie uit internasionale krieket getree. Stokes is verras omdat Joe Root aangewys is as nuwe toetskaptein in plaas van witbal-kaptein Harry Brook. Hy wens Root net sukses toe, maar is bekommerd oor die bykomende verantwoordelikheid nadat hy die kapteinskap in April 2022 laat vaar het. Engeland se volgende toetsverpligting is ‘n tuisreeks van drie wedstryde teen Pakistan wat die 19de begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….