Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-agterspeler, Aphelele Fassi, sê hulle maak gereed vir ‘n Georgiese span wat tradisioneel sterk vorentoe beur wanneer die bal by die agterlyn beland. Die 23-jarige gaan môremiddag in Mbombela, Mpumalanga, die 12de keer vir die Bokke uitdraf wanneer hulle Georgië pak. Fassi, wat saam met Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe die agterste driehoek vorm, verwag ʼn fisiese stryd:
Die Britse en Ierse Leeus gaan die Wallabies intussen in môre se eerste toets in Brisbane pak sonder ‘n enkele Wallieser – die eerste keer sedert 1896. Jac Morgan is die enigste Wallieser oor in die toergroep nadat Tomos Williams verlede maand beseer is. Die span bestaan uit 11 Iere, nege Engelse en drie Skotte. Hoofafrigter Andy Farrell sê Morgan, wat geskitter het in die Leeus se onlangse oorwinning oor die Reds, is uitgelaat omdat daar so baie briljante losvoorspelers is.
# Motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika sê hy sien uit na die naweek se Tsjeggiese Grand Prix wat na vyf jaar weer in Brünn aangebied word. Die KTM-renjaer het die wedren in 2020 in slegs sy derde MotoGP-wedren gewen. Die 29-jarige Binder het tot dusver ʼn moeilike seisoen gehad en sy beste was ʼn sesde plek. Binder sê hy hoop die opgeknapte baanoppervlak en die baan se uitleg sal hom help:
# Tennis: Suid-Afrika se Davisbekerspan sal in September na Pretoria terugkeer vir hulle Wêreldgroep Twee-kragmeting met Marokko. Die kragmeting sal op die Groenkloofklub plaasvind waar Suid-Afrika in Februarie vir Nigerië 3-1 verslaan het in die uitspeelronde. Die wenner sal speel om bevordering na Wêreldgroep Een, terwyl die verloorder in die uitspeelronde vir relegasie sal meeding. Suid-Afrika is tans 58ste op die Davisbeker-ranglys en Marokko 51ste. Die hoofbestuurder van Tennis Suid-Afrika, Anthony Moruthane, glo die tuisbaanvoordeel kan ‘n noemenswaardige verskil maak.
# En padwedlope: Die wêreldrekordhouer in die marathon vir vroue, Ruth Chepngetich, is tydelik geskors deur die Atletiek-integriteitseenheid. Sy het op 14 Maart positief getoets vir ʼn verbode ontwaterings- en maskeermiddel. Chepngetich kan vir twee jaar geskors word, maar haar saak mag deur ʼn dissiplinêre tribunaal aangehoor word. Die Keniaan het die wêreld verstom toe sy in Oktober die Chicago-marathon in twee-uur-9-minute-56-sekondes gewen het. Dit het die vorige rekord met byna twee minute verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….