Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Die Argentynse held Lionel Messi speel vanaand sy laaste internasionale wedstryd in ‘n vriendskaplike kragmeting met Benin in Buenos Aires. Die 39-jarige superster het sedert sy buiging in 2005 altesaam 125 doele in 207 wedstryde vir sy land aangeteken – rekords vir doele en die aantal wedstryde vir Argentinië. Daar word verwag dat ‘n skare van 85-duisend die Estadio Monumental in die hoofstad sal volpak om van hul kaptein afskeid te neem. Plaaslike Messi-ondersteuners kan ‘n laat aand verwag, aangesien die wedstryd môreoggend om eenuur, Suid-Afrikaanse tyd, afskop.
# Rugby: Die Stormers se verdedigingsafrigter, Norman Laker, is vol vertroue dat die terugkerende Springbokke naatloos sal inskakel by die span se stelsel. John Dobson se span wil opmaak ná hul nederlaag teen Edinburgh wanneer hulle Saterdag die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap pak. Die Stormers het byna ʼn volledige groep Bok-spelers beskikbaar vir die wedstryd, insluitend Deon Fourie, Damian Willemse en Sacha Feinberg-Mngomezulu. Laker sê die terugkerende spelers sal vinnig inskakel by die aanpassings aan die stelsel tydens die voorseisoen.
Die opwindende jong veelsydige agterspeler Luan Giliomee gaan intussen na verwagting vandag vanaf die Haaie by die Bulle aansluit. Die 19-jarige, wat vanjaar uitgeblink het vir die Junior Springbokke, het onlangs ‘n langtermyn-kontrak gesluit om na Pretoria te verskuif. Hy het verlede naweek sy laaste wedstryd vir die Haaie gespeel toe hulle die verdedigende Verenigde Rugbykampioenskaps-kampioen, Leinster, in Durban geklop het. Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, is nog nie seker wanneer hy Giliomee gaan kies nie. Die span speel Saterdag teen die Leeus in die Jukskei-derby.
# Krieket: Suid-Afrika-A se gereelde kaptein, Marques Ackerman, sê hy is gereed vir toetskrieket nadat hy op alle denkbare vlakke gespeel het. Hy gaan na verwagting sy buiging vir die Proteas maak wanneer die eerste toets teen Australië Vrydag in Durban begin. Die 30-jarige kaptein van die Dolphins het op elke vlak in Gauteng gespeel en die Suid-Afrika-onder-19- en die SA Akademie-span verteenwoordig. Ackerman sê hy het hard gewerk vir sy eerste toets-oproep en hoop hy kan ‘n bydrae lewer wanneer hy sy kans kry.
# En tennis: Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na die Chinese Ope se eindstryd nadat Daniil Medvedev gediskwalifiseer is in hul halfeindronde-kragmeting in Beijing. Die Serwiër het afgeslaan toe die bal van ʼn muur af bons. Die Rus het dit per ongeluk geslaan, dit het deur die lug getrek en ʼn toeskouer op die oog getref. Medvedev sal alle punte en prysgeld verbeur wat hy tydens die toernooi verdien het. Djokovic kom vandag in die eindstryd te staan teen die Australiër Alex de Minaur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….